’n Webtuiste wat DNS gebruik om mense met mekaar te verbind, het miljoene rande in nuwe beleggings ontvang.

SingldOut het sowat R6,6 miljoen aanvangskapitaal ontvang ná ses maande se betatoetse van die webtuiste.

Die webtuiste se gebruikers moet ’n depper van hul DNS stuur.

Instant Chemistry, hul vennootmaatskappy, kyk dan na spesifieke dele van die genetiese kode om romantiese versoenbaarheid tussen gebruikers te help bepaal.

Dit fokus op die drie gene binne die menslike leukosiet-antigeenstelsel, wat ’n rol speel in biologiese versoenbaarheid, die feromone wat ons vrystel en die samestelling van ons immuunstelsel.

Instant Chemistry het gesê die aantrekkingskrag wat ons teenoor ander mense voel, is vanweë ons instinkte wat ons vertel wie se immuunstelsel geneties van ons s’n verskil.

’n Medestigter van SingldOut, Jana Bayad, het gesê: “Die grootste uitdaging tot dusver vir SingldOut is om te verseker ons het die regte talent.”

Die maatskappy het nou hul webtuiste herontwerp en DNS-stelle aan lede gestuur wat tydens die toetsfase aangesluit het.