Verrigtinge in die Port Elizabethse hooggeregshof het Maandagoggend later as verwag begin. Die rede? Een van die drie beskuldigdes wat van die ontvoering en daaropvolgende moord van Jayde Panayiotou aangekla word, moes eers in die hof langsaan verskyn vir die onregmatige moord op Denise Marlene Webber. Volgens The Herald is die 78-jarige Denise met ’n handdoek verwurg, kwalik vier maande ná Jayde vermoor is.

Sinethemba Nenemba het saam met drie ander, Fikile Mengo, Mkhuseli Ngqanda en Thanduxolo Vumazonke verskyn. Thanduxolo is Sizwe Vumazonke se neef.
Sizwe was deel van die groep wat aangekla word van Jayde se moord. Hy het egter vroeër vanjaar in die gevangenis gesterf. Kaptein Johann Rheeder het destyds aan Algoa FM gesê dat Mkhuseli Ncqanda tydens sy inhegtenisname vir die moord op Denise met vyf inbrake in die Walmer-gebied verbind word. Hy word ook verbind met die gewelddadige aanval op ’n boer in die Oos-Londen-distrik in Junie 2015. Tydens daardie aanval is die boer se hand afgekap.
Denise is op 20 Augustus 2015 in Kabega Park in die Baai tydens ’n huisrooftog vermoor.
Hier volg die lys van items, wat na beraming sowat R120 000 werd is, wat gesteel is. Denise se GPS is ook na bewering deur die viertal gesteel.

Die saak is uitgestel tot 18 April aanstaande jaar.