Hjalmar, oorspronklik van Riebeek Kasteel in die Wes-Kaap, beoog om vanjaar die eerste jaar van sy graad in B.Sc fisika aan te pak.

Hjalmar se pa, Heinrich, vertel sy seun het die week met oriëntasie aan die Universiteit van Pretoria (UP) oftewel Tukkies begin en sy lesings begin Maandag.

Sedert die universiteit Maandag op hul webtuiste oor Hjalmar berig het, word die gesin, wat sak en pak Jakarandastad toe getrek het, deur die media oorval. Hy vertel hulle wil graag daar wees om hul minderjarige seun met dié nuwe avontuur te steun.

“In dié stadium wil ons hom net beskerm en geleentheid gee om sy voete te vind. Hy sien baie uit daarna om met sy studies te begin.”

Hjalmar het verlede jaar sy A-vlakke deur die Cambridge- internasionale eksamens, die ekwivalent van gr. 13, deur tuisonderrig afgelê. Hy het onder meer die vakke fisika, chemie en wiskunde geskryf in November laasjaar.

Die UP berig Hjalmar het Tukkies gekies omdat hy glo “dit die beste universiteit is”.

Hjalmar, wat deur uitdagings gemotiveer word, het vertel hy het nie ’n “formule tot sukses nie, maar glo as jy iets geniet, sal jy sukses behaal”. Hy glo sukses lê daarin om pret te hê. “Solank dit net nie vervelig is nie.”

Hy het vertel hy sien uit daarna om ’n wêreld te ontdek wat nog nie voorheen ontdek is nie. “Ek wil nog groter vrae stel en uitvind wat daar nog is om te doen,” het hy oor die wêreld van teoretiese fisika en astrofisika gesê.