[caption id="attachment_119580" align="alignnone" width="600"]Suzaan was vir vier weke op die werklikheidsreekd Die Kliek op Via te sien. Foto: Facebook Suzaan was vir vier weke op die werklikheidsreeks Die Kliek op Via te sien. Foto: Facebook[/caption]

"Sy was baie oulik. Dis baie tragies," sê Schalk Bezuidenhout, die aanbieder van dié program, Die Kliek, oor die skielike dood van die 23-jarige Suzaan.

Hierdie voormalige werklikheidstelevisie-deelnemer is oor die naweek in ’n motorongeluk dood, glo op die Moloto-pad, noord van Pretoria.

Dit het Sondagoggend, een-nuur gebeur. Daar was ’n ongeluk op die pad en toe sy oor die bult kom, toe swaai sy uit vir die ongeluk agter in ’n insleepvoertuig vas, vertel een van haar sussies Elizna van Staden aan Huisgenoot.

"Sy was my rots en my held."

Die Kliek, die program waaraan Suzaan deelgeneem het, word deur VIA se webtuiste beskryf as "manvang-manewales via die romantiese hofnar Schalk. Jou pasmaat is dalk net ’n klik weg. Die vroue is in beheer en die mans moet beïndruk. Komediant Schalk Bezuidenhout skerts terwyl hulle besluit of een van die ouens die klik werd is!"

[caption id="attachment_119579" align="alignnone" width="600"]Suzaan het hierdie foto sowat 'n week gelede op Facebook gedeel. Suzaan het hierdie foto sowat 'n week gelede op Facebook gedeel.[/caption]

Suzaan was op Die Kliek te sien vir vier episodes, wat einde November en vroeg Desember verlede jaar uitgesaai is.

"Ons het daardie episodes in Oktober verfilm. Dit was Episodes 2 tot 5 van die eerste reeks," vertel Handrie Basson, vervaardiger van die reeks.

Suzaan was ’n argitek-student by die Tshwane Universiteit van Tegnologie. Sy was verlede jaar tydens verfilming in haar derde jaar van studies. Haar gesin woon in Pretoria en sy was die middelkind van drie susters.

"My liefste sussie . . . Met die seerste hart groet ek jou vandag. My beste vriendin, my lewensmaat. Jou lyntjie was net te kort. Ek het jou so lief. Vir altyd. Wag vir my," skryf Elizna op op Suzaan se Facebook-blad.

Suzaan laat nog ’n suster, Michelle-Mari, agter.

"Jy was van kleins af ’n pragtige kind binne en buite met die mooiste maniere. Die blonde krulkop-dogtertjie wat vir my so pragtig was. Mag jy saggies rus in Jesus se arms en liefde. Baie sterkte en meegevoel vir Moeder en Vader en susters. Jy gaan `n groot leemte laat in die familie," skryf nog ’n familielid, Natasja Van Staden.

Via het verlede jaar ’n onderhoud met Suzaan gevoer toe sy deel van die program was.

– Pieter van Zyl

Ander stories op Huisgenoot.com

Derick Hougaard vertel hoekom hy huurders vir sy huis soek

Is hierdie ook hoe jou jammerlike man reageer as jy hom saamsleep winkels toe?

Is die vermiste MH370 naby die Kaap gevind?

Dubbele vreugde vir Bobby van Jaarsveld op sy verjaardag

Vrou vertel van haar ‘verlammende vrees’ vir werk

Is hierdie die 10 beste Afrikaanse flieks van alle tye?