Bykans 20 Afrikaanse aanlyn videomakers, vloggers en ander sosialemediapersoonlikhede het bymekaar gekom en elkeen vir VIA vyf eksklusiewe video’s gemaak wat op die TV-kanaal asook in die sosiale media, Facebook en YouTube, sal verskyn oor die volgende drie maande. 

Dié groep gaan as inspirasie dien vir voornemende videomakers en ook as VIA-ambassadeurs optree vir dié tydperk. Die projek begin met die vloggers Ammiël Smith en Leone Mostert (beter bekend as Net Nog 'n Moerige Mamma) en hul video’s kan op VIA se Facebookblad en YouTube-kanaal gekyk word. 

VIA se kanaalhoof, Izelle Venter, sê toe VIA in die digitale wêreld gaan krap het, was hulle verbaas oor die aantal oulike Afrikaanse inhoudmakers.

Sy meen egter dit is steeds heeltemal te min.

Sy verduidelik: "VIA glo Afrikaans kan doen met nog baie unieke stemme. Ons hoop hierdie groep van 20 mense gaan jou inspireer en dat VIA deur WMJ baie nuwe interessante karakters en talentvolle mense gaan bekend stel. Trouens, as enige van dié videomakers groot aftrek kry, sal ons beslis 'n TV-reeks met hulle oorweeg."

Een van WMJ se belangrikste doelwitte is om die ganse Suid-Afrika te nooi om hul unieke talente, perspektiewe, oomblikke en stokperdjies te deel. Oud, jonk en almal tussenin kan hul video’s stuur. 

Die gunstelingvideo sal elke week R5 000 wen tot en met die einde van Oktober. 

Om in te skryf hoef jy net ’n kort video in Afrikaans te maak, dit op YouTube, Facebook of Instagram te laai met die hutswoorde #VIATV en #VIAWMJ. Stuur dan ook 'n skakel vir die video na info@viatv.co.za

Vir enige vrae oor die projek, kontak gerus vir Robert Kaden by robert.kaden@media24.com.

Die program word vandag geloods en sal drie maande duur.  

Dit klink beslis na hope pret!