Mense wat in die openbare oog verskyn, weet hulle moet voorbereid wees op die soet én die suur wat daarmee gepaard gaan.

Soms loop van die kwetsende opmerkings soos water van 'n eend se rug, maar ander kere is dit dit 'n kwessie van tot hiertoe en nie verder nie.

Dit is hoe die sangeres Irene-Louis van Wyk, dogter van die musiekpromotor Louis van Wyk, Donderdagoggend gevoel het. Ene *Jan (nie sy regte naam nie) het na bewering Woensdag kommentaar op haar Facebook-blad gelewer.

Daarin sê hy "Werk aan jon gewig ek ken jou ma sy was nooit so dik nie (sic) "

Irene-Louise se ma was die gospelsanger Irene van Wyk (43) wat in 2009 verongeluk het.

Donderdag het Irene-Louise besluit om standpunt in te neem en op Drikus se kommentaar te reageer.

Ons wêreld het liefde nodig, nie haat, judgement en lelike woorde nie.

Liewe *Jan,

Ek sou in die verlede hierdie boodskap gelees het, hom delete en my oë uitgehuil het, maar ek is nie meer daai meisie nie. Ek het hard baklei binne myself om die vrou te wees wat ek vandag is.

Ek het 'n stem en ek gaan hom gebruik.

Ek is geskok vir mense wat deesdae sulke boodskape kan stuur vir mekaar, veral vir vrouens oor hoe hulle lyk, en wegkom daarmee.

Liewe *Jan, EK IS LIEF VIR MYSELF, nes ek is. Ek werk elke dag aan myself en ek is trots op myself vir alles wat ek al bereik het in my lewe.

In die vervolg indien jy ietsie lelik van/vir iemand wil sê, asseblief hou dit vir jouself. Ons wêreld het liefde nodig, nie haat, judgement en lelike woorde nie.

*****Aan AL die vrouens daar buite, JULLE IS BEAUTIFUL, maak nie saak wat jou size is nie. Moet nooit toelaat dat iemand jou gemoed of selfbeeld afbreek nie.

Daarmee saam het sy 'n inspirerende aanhaling van Eleanor Roosevelt gedeel wat daarop dui dat niemand jou minderwaardig kan laat voel sonder jou toestemming nie.

Irene-Louise en die aktrise Leandie du Randt het in 2016 landwyd mense motiveer en inspireer. Leandie se boek, Gemaklik in Jou Lyf, is daarop gefokus op hoe jy jou persoonlikheid die beste kan uitleef.

Terwyl Leandie die motiveringspraatjies hanteer het, het Irene-Louise met haar soet stem vermaak verskaf.

Nog bekendes wat onder afkrakers deurgeloop het

Die sangeres Kelly Clarkson het ook liederlik deurgeloop toe sy volgens ander se opinie nie gou genoeg gewig verloor het na die geboorte van haar dogter in 2014 nie.

“Ek het nie ’n obsessie oor my gewig nie, dis dalk een van die redes hoekom dit vir ander ’n probleem is.”

Vin Diesel het self ook deurgeloop aan diegene wat eerder sy lyf wou afkraak (body shaming) as om iets positief te sê. Of selfs net stil te bly.

“As jy dit genoeg aan mense doen, word hulle teruggetrokke . . . want hulle weet nie wie hulle probeer uitbuit of afrem nie.”

Om hulle in die openbaar te verneder oor iets waaroor hulle min, indien enige, beheer het, is mos mishandeling.

“Dis ’n spul negatiewe goed. Ek dink dit is eintlik verkeerd. Ek dink mense moet minder veroordelend wees en meer liefdevol.

“Jy hoor gedurig mense oor haters praat en mense verwerk haters verskillend. Ek kry mense jammer wat ander moet kleineer om beter oor hulself te voel.”

Amy Schumer, Wentworth Miller (van Prison Break-faam), model Iskra Lawrence, Demi Lovato, Selena Gomez, Tyra Banks, J.K. Rowling, Emma Stone en Jennifer Lawrence word gereeld deur afkrakers geteiken.

Die afkraak van iemand se liggaam is eintlik mishandeling.

Ook die aktrise Melissa McCarthy het al onder die ongepoetste skerp tong van afkrakers deurgeloop.

"Ons moet op hou om vroue volgens hul liggame te kategoriseer en te beoordeel. Ons leer jong meisies om onbereikbare perfeksie na te streef in plaas daarvan om gelukkig en gesond in hul eie vel te voel."

Shuchi Singh Kalra, ’n skrywer en blogger, beskryf die afkraak van iemand se liggaam as mishandeling.

“Dit laat mense sleg en minderwaardig voel. Daar word teen hulle gediskrimineer omdat hulle voorkoms nie by die standaarde van die gemeenskap pas nie. Om hulle in die openbaar te verneder oor iets waaroor hulle min, indien enige, beheer het, is mos  mishandeling.

Die mode-blogger Amena Azeez sê die enigste manier om die afkraak van liggame te beveg is om alle liggaamsvorme te normaliseer. “Praat daaroor en maak dit verteenwoordigend in die hoofstroom,” is haar raad.

Bykomende bronne: cnn.com, huffingtonpost.in

SaveSave