“Liewe oom Aggie,

“Jy sal nie weet wie ek is nie, maar ek is ’n boerseun en Christen-seun wat glo geloof is ’n leefwyse, nie iets wat jy van ’n verhoog af uitbasuin oor 10 000 kilowatt-luidsprekers nie.

“My oom, ek het ook die laaste paar jaar besluit ek word eerder staande gekruisig as wat ek die lewe op my knieë deurgaan.”

So begin die sanger Tobi Jooste se ope brief aan die prediker en boer van Zambiese afkoms, Angus Buchan. Hy het bekendheid verwerf vir sy outobiografiese boek Faith Like Potatoes. In die rolprentweergawe het Frank Rautenbach, wat vroeër in 7de Laan was, hom gespeel.

Tobi is bekend vir sy Kerssangdienste en voorliefde vir Broadway en sy optredes saam met Corlea Botha.

“Ek hou jou nou al ’n geruime tyd dop en hou my mening vir myself,” gaan hy voort. “My ouma het gesê jy praat nie seks, politiek en geloof van ’n verhoog af nie.

“Maar vanoggend bloei my hart, my Oom.

“ ’n Tannie bel my die ander die dag en vra of ek sal kom sing by hul saamtrek, want hulle wou jou bespreek, maar jy tree net op wanneer soveel-duisend-plus mense is met ’n tarief waarmee ek ’n Mercedes kan koop.

“Nie lank gelede nie, toe ry van my familie bus en trein en donkiekar tot om by jou saamtrek te kom. Ek bel my vriend wat jou klank, verhoog en beligting moes opstel, en hy vertel my hoeveel miljoen net dit gekos het.

“En daar bid 40 000 mans saam. Wat ’n mooi gebaar. Ek het jou boodskap geluister. Dis Woord wat spreek tot elke man se hart . . .

“Maar toe skryf ’n tannie op Facebook vir my ’n boodskap en sê: ‘Tobi, my man kom Sondagaand hier aan met ’n lied in sy hart, maar Maandagaand toe word ek weer aan die hare rondgepluk.’

“En ek wonder, my oom. Dis soos om vir iemand te leer motor bestuur, en dan met ’n Porsche huis toe te stuur en te sê: Sien en kom klaar. Geloof is soos bad, jy moet dit daagliks doen, anders word jy maar weer vuil.”

Tobi vat hom ook aan oor “jy bring jou eie Bybel uit, my oom”. Hy vertel hy het grootgeword in ’n boeregemeenskap waar hy “so ’n bietjie gesels onder die manne”.

“Dan sit hulle met lang brandewyne en vertel hoe ‘massive’ jou verhoog was. Die klank was so goed, jy kon dit tot in Piketberg hoor.

“Dan vat hulle nog ’n sluk en sê, nee ons gaan nie môre kerk toe nie, ons ou dominee kom nie naby oom Aggie nie.

“Dan vra ek waar’s die vrou en die kinders? ‘Nee, by die huis.’ ”

Hy sê Moses en Gandhi het nie op verhoë gestaan nie, maar is alleen die berg op of het in afsondering gevas.

In aanloop tot sy brief voorspel hy: “Ek gaan beslis in die moeilikheid kom, maar ek staan op vir waarin ek glo.”

En dit is toe ook so:

“Wie sê dit moet nie-winsgewend wees?” vra Jan Viljoen in reaksie op die brief op ’n Facebook-blad waar dit gedeel is.

Anestha Smit skryf: “Sjoe, ek sê nie soms veel nie, maar hoeveel keer sê hy in die brief dat hy nie oordeel nie, maar dis tog wat hy doen.

“Oom A het nog nooit gesê dat sy boek die weg en die waarheid is nie, dis net ’n makliker weergawe vir mans wat dit moeilik vind om by die Bybel te begin.”

Daar was ook baie stemme wat Tobi se siening gesteun het: “Ek glo dat ’n arbeider sy loon werd is, maar as dit genoeg is om ’n jet te koop sodat hy by die see kan bly en net Sondae terugvlieg om te preek en hy kan ’n mansion daarmee koop, dan is dit nie betaling vir wat hy doen nie, maar uitbuiting van arm mense,” skryf Hildegard van der Spuy. “Hier gaan dit nie vir my oor ’n mens nie, maar oor wat hy verkondig. Ek glo dat man en vrou gelyk geskape is en aan mekaar onderdanig (wat ’n ongepoetste woord), kom ons noem dit eerder dat ons mekaar moet respekteer en liefhê en steun. Ek was nie self daar nie, maar as hy sy ‘eie’ boek gebruik, sou ek net graag wou hê dat hy die waarheid daaruit kan haal.”

Johann Smith skryf: “Selfs Jesus het die handelaars uit die tempel verdryf. Die geld word nie gebruik vir die armes nie, maar net vir oom Angus se sak. Die mense sal maklik R1 000 bestee om na oom Angus te gaan luister en verby sy naaste ry wat sit en krepeer van honger en dors.”

John Grobler vertel sy ouma het altyd gesê: “Iemand wat besigheid doen met die Bybel onder die arm is die duiwel se slypsteen.”

tobi1

“Moet alle gospel-musikante ook verniet speel en gratis CD’s uitdeel? Moet sangomas ook gratis dolos gooi en raad gee? Money makes the world go round,” speel Jan Viljoen duiwelsadvokaat.

tobi2

“Ek is nou in ’n tweestryd,” laat Erika Reynecke Coetzer van haar hoor. “Hy is Sondae op en hy sê sy kinders sorg vir hom en boer op die grond. Ek sal bitter teleurgesteld wees as dit waar is.”

tobi3

“Gun die man sy miljoene. Enigiemand wat iets kan verkoop wat nie bestaan nie, verstaan geld! Hy verstaan geld. Love dit,” gooi Abrie Snyman ’n klip in die bos. Dan haal hy die Amerikaanse skrywer Mark Twain aan: Religion was invented when the first con man met the first fool.”

tobi4

tobi5

tobi6

Tobi het nie al die reaksies gelees nie, want hy het dit van sy Facebook-blad verwyder. Hy het al drie e-posse gekry van mense wat hom aanvat oor wat hy geskryf het.

“Ek plaas baie dinge op my Facebook-blad om mense te laat nadink. Hierdie brief was ook een van die soort inskrywings.”

“Ek en my pa het ’n baie mooi verhouding en ons as gesin praat gedurig oor godsdiens. Ons het ’n oop gesprek oor die brief gehad en hy het gevoel ek gaan op te veel tone trap; daarom het ek besluit om dit af te haal, maar toe is dit reeds 200 keer gedeel.

“Van die reaksies wat ek teen my gesien het, was mans wat die saamtrekke bygewoon het. Vroue van hierdie mans het my siening ondersteun.”

Ek wil nog ’n klip in die bos gooi en vir die mans veral vra: “Sit die TV vir ’n rukkie af elke aand en vat jou familie se hande en bid saam vir jul beskerming en gee die geld wat jy sou spandeer aan saamtrekke vir jou vyand – en kyk wat breek God in jou hart (en familie) oop.

“God hoor jou hart nog voor jy gevra het, jy hoef nie soos skape agter die bondel aan te hardloop nie.”

Huisgenoot het Angus Buchan om kommentaar genader, maar ons wag nog vir die terugvoer en sal dit hier bywerk.