Die Kaapse sanger Stephan Visagie kon nie die vermoorde kleuter Poppie van der Merwe se blou oë, wat tot in ’n mens se siel in kyk, uit sy kop kry nie.

Hy het die dag nadat hy die berig van haar dood in November gelees het, ’n liedjie, Jy is Vry, ter herinnering aan haar geskryf. Die video van die liedjie, wat hy Saterdag op sy Facebook-blad geplaas het, was teen Woensdagoggend byna 60 000 keer gekyk en meer as 4 000 keer gedeel.

“Poppie, die een is vir jou,” het hy by die plasing van sy video op sy blad geskryf. “Jou blou oë het steeds nie ophou spook by my nie, jy was nie die eerste engelkind om te val nie, maar ek hoop jy sal die laaste wees.”

Huisgenoot het vroeër berig Kobus Koekemoer (43) het sy stiefdogter, Poppie, op Dinsdag 25 Oktober op ’n plaas buite Brits na bewering so erg aangerand dat sy daardie aand by haar aankoms by die plaaslike hospitaal aan haar beserings beswyk het.

Stephan, wat in Parow-Noord woon, was op pad Kakamas toe vir ’n vertoning toe hy die lied skryf. “Die woorde en musiek het net by my opgekom.”

Jy’s die nuwe ster in die hemel vanaand.

Jou naam is geroep en jy moes gaan.

Jy is vry.

Hierdie wêreld was te wreed vir iemand soos jy.

’n Laaste seerkry, maar nou’s dit verby.

Jy is vry.

Want in jou oë was die seer van ’n duisend jaar

En wat die wêreld jou skuld sal ons nooit kan betaal nie

Rus sag

Jy is vry . . .

Kyk hier na die video:

Stephan het die lied aan Ribbons4Roses geskenk. Dit is ’n organisasie sonder winsbejag waarvan hy die afgelope vyf jaar ’n ambassadeur is. Ribbons4Roses stuur dan die lied aan enigiemand wat ’n skenking doen, aangesien Stephan dit nie op een van sy albums gaan insluit nie.

Ampie Fourie, stigter van Ribbons4Roses, ’n organisasie wat hom vir die welsyn van kinders beywer, sê hulle het 15 heeltydse werkers en sowat 50 vrywilligers. Hy het die organisasie sewe jaar gelede begin.

“Dit is maklik vir mense om te sê wat met kinders gebeur is nie aanvaarbaar nie. Dis selfs maklik om ’n plakkaat by ’n hof te gaan rondswaai. Maar hoeveel mense raak regtig betrokke? Dis moeilik om mense en ondernemings te kry om die pad saam met ’n mens te stap.”

Stephan is een van daardie mense. Hy vertel hy het nie self kinders nie, maar het ’n sagte plekkie vir hulle. “Ek kan Poppie nie vergeet nie en ek wil nie hê ander mense moet nie.”

En van daar die lirieke . . .

Oor jou wang het ’n laaste traan gerol

Terwyl die mensdom kyk hoe nog ’n engel val

Rus sag, jy is vry

Jy is vry . . .

Al hierdie vrae moet nog antwoorde kry,

maar die waaroms en hoekoms sal altyd bly

Jy is vry.

Speel in die wolke ry op reënboë se rûe.

Dit was winter waar jy was, maar nou’s daar net son.

Jy is vry.

Besoek Stephan se Facebook-blad vir meer inligting.

Stephan se nuwe album, Rondloper, is pas uitgereik en sy eerste album, For Keeps, vyf jaar gelede was vir ’n Huisgenoot-tempo benoem.

Kobus Koekemoer is Maandag borgtog in die Brits-landdroshof geweier en sal weer op 25 Januarie volgende jaar hier verskyn.