pieter koen

“’n Ou skrik as jou kind begin kla sy nek is seer en hy sukkel om sy ogies oop te maak,” vertel dié sanger en grapmaker aan Huisgenoot.

Sy middelkind, Jayden (8), het verlede week gekla hy voel nie lekker nie. Pieter het hom hospitaal toe geneem en later gehoor hy is met varkgriep gediagnoseer. Jayden is dadelik in die hospitaal opgeneem.

En asof dit nie genoeg was nie, begin sy oudste, Juván (10), ook kla hy voel olik. Gelukkig kon die gesin sy griepsimptome spoedig sommer self reg dokter.

“Die dokter het verduidelik dis 'n virus wat nou die ronde doen,” voeg Pieter by. Gelukkig lyk dit of dit nou heel goed met Jayden gaan. Pieter vertel sy agtjarige het binne ure ná hy in die hospitaal opgeneem is 'n klankgreep aan sy ma, Lotie, gestuur waarin hy haar al singend vra om hom te kom haal.

"Kyk, hy is nie bang vir 'n drip en 'n rap nie," spot Pieter. Jayden was gretig om uit die hospitaal ontslaan te word, want hy het die volgende dag 'n wedren by die skool gehad wat hy vir niks wou mis nie.

[caption id="attachment_137050" align="alignnone" width="602"]Hier is Pieter se seun Jayden (middel) by die wedren ure na hy uit die hospitaal ontslaan is. Foto: Verskaf Hier is Pieter se seun Jayden (middel) by die wedren ure na hy uit die hospitaal ontslaan is. Foto: Verskaf[/caption]

"Ons het hom saam met sy maats in 'n rolstoel om die atletiekbaan gestoot omdat ons nie wou gehad het hy moes hardloop nie," vertel Pieter.

Gelukkig het hul jongste, Luné, die griep totaal vrygespring. Maar dit gaan deesdae goed met die res van sy gesin ook, verseker Pieter ons.

Intussen speel Pieter ook die radiostasies warm met sy nuwe enkelsnit Boobs, Boude en Bene waarvoor die musiekvideo onlangs uitgereik is.