adambarnard

Tydens dié roetineprosedure verwyder ’n dialisetoestel gifstowwe uit sy liggaam sodat dit gesond genoeg kan wees voor hy ’n nieroorplanting kry.

Die gewese Romanz-sanger ly aan ’n soort neuropatie wat ’n nieroorplanting noodsaaklik maak, maar dit kan eers gebeur sodra sy liggaam sterk genoeg is om ’n suksesvolle operasie te verseker, verduidelik sy agent en vriend, Henri Scott.

“Onder die omstandighede gaan dit baie goed met Adam en hy en sy familie is vol vertroue dat hy ná die behandeling gereed sal wees vir die oorplanting.”

Adam het in Oktober behandeling in die hospitaal ontvang sowel as ’n reeks behandelings by ’n kliniek, maar destyds was sy liggaam nog nie gereed vir die operasie wat vir verlede maand beplan is nie. Dis toe onbepaald uitgestel.

“Die dokters waag nie kanse nie,” verduidelik Henri. “Hulle moet eers 100 persent tevrede wees. Ons hoop die volgende twee weke se behandeling sal werk.”

Adam het al van sy kinderdae af las met sy niere. Omdat hulle sukkel om liggaamsoute en sure uit te skei, is sy kaliumvlak onder standaard.

Chroniese medikasie moes sy nierfunksie ondersteun, maar nadat hy verlede jaar ernstig siek geword het op ’n konserttoer, het sy dokter besluit dat hy so gou moontlik ’n nieroorplanting moet kry.