Anders as om die tradisionele roete soos YouTube of Vimeo te volg, het die Afrikaanse sanger André Venter besluit om die musiekvideo van sy duet saam Andriëtte Norman net op sy Facebook-blad uit te reik.

Binne net 24 uur is die musiekvideo vir Tot Oneindig Einde Kry 'n allemintige 63 000 keer op die sosiale-mediaplatform gekyk en meer as 3000 keer gedeel. Tot op datum staan die syfer al na aan 'n honderdduisend. Dis geensins te versmaai nie, en nou meen André en sy span hy het musiekgeskiedenis gemaak deur die eerste Afrikaanse musiekvideo te wees wat hierdie besonderse mylpaal bereik.

Tot op datum is dit al na aan 'n honderdduisend keer gekyk

Die sukses van die video volg ook op die kreatiewe manier wat André in die eerste plek vir Andriëtte gevra het of sy 'n duet saam hom wil opneem. 'n Tydjie terug het hy 'n video-opname waarin hy haar om 'n duet vra, op haar Facebook-blad gedeel. Die vele reaksies van aanhangers het Andriëtte genoop om dadelik in te stem.

André meen hy het juis op Andriëtte besluit omdat hy op soek was na iemand met ’n mooi stem en profiel. En volgens hom beskik sy beslis oor albei dié eienskappe.

"Andriëtte se stem is uniek; dis een van die beste stemme saam met wie hy al gesing het," vertel die sanger met lof. Dit sluit boonop die internasionale sterre saam wie hy al gewerk het óók in.

“Sy is ook baie musikaal en dit het hierdie meesterstuk tot gevolg gehad! Natuurlik voel ek ook dat sy, net soos ek, ’n dieper betekenis aan haar loopbaan heg,” sê hy voorts.

Die musiekvideo is steeds te sien op André se Facebook-blad.