Staan opsy, Brad Pitt. Bobby van Jaarsveld is hier. En Theuns Jordaan. Pas op, Charlize,daar is ’n ander Theron op die fliektoneel. Elizma is haar naam. En die rock-chick Karen Zoid maak haar buiging as aktrise en vroeg in die nuwe jaar ook Bok vanBlerk en Lianie May in ’n spesiale aksieromanse. Die Afrikaanse musiekfliek is terug!

Daar was die afgelope tyd ’n reuse oplewing in die maak van Suid-afrikaanse flieks.

Nie net musiekflieks nie, maar ook komedies en dramas. Ná die regering se besluit twee jaar gelede om plaaslike rolprente met ’n begroting van meer as R2,5 miljoen met 35 persent te subsidieer, het 63 flieks reeds befondsing gekry.

Die regering het daardeur dus sedert Februarie 2008 ’n stewige R196 miljoen aan subsidies betaal. Daar word gereken dat plaaslike rolprentmakers in dié tyd sowat R875 miljoen aan die maak van rolprente bestee het.

FLIEK: Jakhalsdans

Datum van uitreiking: 23 April 2010

Jakhalsdans draai reeds sedert 23 april en die rekords spat! Binne die eerste naweek is amper 20 000 kaartjies verkoop. dit was die grootste premièrenaweek vir ’n afrikaanse fliek sedert November 1994 toe lipstiek dipstiek die lig gesien het. Die fliek is die eerste draaiboek van die trefferskrywer Deon Meyer. En met Theuns en Elizma in die hoofrolle is musiek uiteraard ’n groot deel van die storie. Theuns speel die rol van Ruan landman, ’n gewilde sanger wat loxton toe trek om van die wêreld te skuil. Elizma, die onderwyseres Mara, beland met haar dogtertjie Mia op die dorp, en kort voor lank spat die vonke – die soort wat mettertyd ’n liefdesvlammetjie aan die brand steek ...

FLIEK: Susanna vanBiljon se Storie (werktitel)

Datum van uitreiking: Oktoter 2010

Daar is nog groot geheimhouding oor Franz Marx se fliek waarin Karen Zoid speel, maar as jy moet  hoor wat die mure fluister, gaan dit ’n grote wees. Behalwe Karen, speel akteurs soos David Rees, Shaleen Surtie-Richards en Hannes vanWyk van Egoli-faam, en Wilna Snyman van 7de Laan daarin. Verskeie ander bekende gesigte is ook te sien, van RSG se Tinus Esterhuizen (ook bekend as Martin Lane) wat orrel in ’n kerktoneel speel tot die skinderjoernalis Eagen Williams en die modeontwerper Simon Rademan wat buigings voor die kamera maak. Ander bekende sangers in die fliek is Kurt Darren, Rina Hugo, die mansgroep Romanz en Valiant Swart. Dit word in Oktober by Huisgenoot-Skouspel bekendgestel.

FLIEK: Liefling

Datum van uitreiking: November 2010

Liefling is ’n egte musiekblyspel. “Dis die eerste Afrikaanse fliekmusiekblyspel in die feitlik drie dekades sedert die première in 1980 van Sing vir die Harlekyn met Sonja Herholdt in die hoofrol,” vertel Paul Kruger, een van die vervaardigers. Die fliek is om 23 gewilde Afrikaanse liedjies gebou, maak jou dus gereed vir ’n trefferklankbaan. Lika Berning speel Liefling, en naas Kurt Darren, Willem Botha en Anna Davel, speel ook akteurs soos Paul du Toit (Malan in Binnelanders) en Elize Cawood daarin, asook die bekende tenoor Raoul Beukes, wat onder meer in die rol van genl. Koos de la Rey in die musiekblyspel Ons Vir Jou gesing het.

Lees meer oor al die Afrikaanse flieks en musieksterre wat daarin speel in die nuutste uitgawe van HuisgenootTempo.