YouTube het Justin Bieber se loopbaan afgeskop en selfs vir Rebecca Black in die kollig geplaas. Verskeie ander musikante het ook hulle loopbaan te danke aan hierdie video-kanaal en deesdae is YouTube ook in Afrikaans beskikbaar.

Ons het daarom besluit om bietjie op YouTube te gaan soek vir plaaslike talent. Die 21-jarige Ilze du Plooy het dadelik ons aandag gevang en ons weet sommer hierdie is ‘n ster in wording.

Ek studeer op Potchefstroom by die Noordwes-Universiteit en het daar groot geword, maar bly op die oomblik in Hartbeespoortdam. Ek is 21 jaar oud en is ‘n finalejaar onderwysstudent volgende jaar. Behalwe vir my studies is ek baie betrokke by sport, toneel en drama, musiek maak en skryf en ek is ook ‘n visuele kunstenaar.

Het jy ‘n musikale agtergrond? 

Ek sing in kore al van Graad 2 af tot in my eerstejaar. Dit sluit onder andere die Noordwes Kinderkoor, Noordwes Jeugkoor en Nasionale Jeugkoor in, waar ek ook as solis opgetree het. Ek het myself maar klavier en kitaar leer speel. Ek het op skool deelgeneem aan revue en musiekblysple. Ek is baie dankbaar om in ‘n huis te kon grootword wat lief is vir musiek, al was dit baie verskillende tipes.

Wat het jou laat besluit om jou videos op YouTube te laai?

YouTube skep ‘n geleentheid waar ek my liefde vir musiek met ‘n baie groter gehoor kon deel as wat dit byvoorbeeld net in Potchefstroom sou bereik.

 Hoeveel videos het jy reeds opgelaai? 

Ek het reeds 5 videos opgelaai, waarvan een ‘n video is van ‘n optrede by ‘n kompetisie by die Universiteit.

Hoe maak jy jou YouTube-videos?

My broer, Gerhard du Plooy, wat die dromme speel in ons “band” het ‘n tipe van ‘n ateljee in sy huis wat maar vir eers ook dien as sy studeerkamer. Ek gebruik ‘n gewone video-kamera om die videos op te neem waar ek die liedjies sing en speel. Ek het dan ‘n program op my rekenaar waar ek die videos oplaai en die voor- en agterblaaie byvoeg en dan is dit gereed om op my YouTube-kanaal gelaai te word. Die voor- en agterblaaie is ontwerp deur Louisa van der Walt.

Wat beplan jy vir die toekoms? 

Ek het my eie “band” waar ek sing en klavier speel. Die “band” se naam is The Tapping Toes, waarin my broer dromme speel en dan wissel ons af met kitare, baskitare, viole en tjello’s. Ons wil graag meer formele funksies doen in die toekoms. Wat YouTube betref, het ek nog ‘n hele paar videos in die mou wat van my eie musiek ook sal insluit. Ek skryf graag en sal in die toekoms meer Afrikaanse videos ook wil oplaai. Daar sal ook binnekort meer videos beskikbaar wees van optredes.

Watter musikant inspireer jou?

Dit is baie moeilik om een musikant uit te sonder, want ek vind inspirasie by verskeie. Dit gaan maar oor die tipe liriekskrywers, die boodskap wat hul oorbring deur die musiek en ook die saamstel van die musiek. As ek ‘n paar moet noem, sou dit insluit: Laurika Rauch, Adele, Regina Spektor, Ingrid Michaelson, Karen Zoid, Mumford&Sons, aKing en Just Jinjer.

Besoek Ilze se YouTube-kanaal hier vir meer.

Volg Huisgenoot op Twitter.