Nadat sy ses jaar lank nie ’n album uitgereik het nie, bied die bekroonde sopraan Rina Hugo musiekliefhebbers ’n splinternuwe, tweetalige album in die geestelike genre getiteld Sy Naam is Jesus. 

Dit is Rina se vyfde gospel-CD; die jongste in ’n roemryke loopbaan van 31 albums.

“Hoewel ek deur my loopbaan altyd betrokke was by geestelike musiek en dikwels in kerke opgetree het, het ek ongeveer drie jaar gelede besluit om my gewone konserte af te skaal en hoofsaaklik op die eredienste te fokus wat ek namens die Christelike Seemansorganisasie doen,” verduidelik Rina.

“Die dienste bestaan uit liedere en gedigte wat ek saam met my goeie vriendin Rien Joubert skryf en saamstel. Die tema vir die nuwe diens is Sy Naam is Jesus. Dit was vir my logies om die liedere wat ek in die program ingesluit het op dié CD te sit.

“Daar is ’n paar bekende liedere op en nuwes wat ek oor ’n lang ruk bymekaargemaak het.”

Die verwerkings, onder meer deur Johan van Rensburg, is klassiek gepoets en Rina se vokale vernuf skitter op elke snit. Die album het twee duette: Agnus Dei (Lam van God) saam met Jaconell Mouton en What I Need Is You (met Johan op klavier).

“Jaconell is een van ons land se begaafste pianiste en musiekverwerkers. Sy is by baie mense bekend as leier van die Musiekfabriek in die TV-program Noot vir Noot. Ek het haar eendag hoor sing in een van haar verhoogoptredes en dadelik besluit dit is die stem wat ek soek om saam met my die duet op die CD te sing.

rinajaco

“Sy het ingewillig en sommer ook aangebied om die begeleidingsmusiek te verwerk en te vervaardig. Ek is verskriklik opgewonde oor die lied,” sê Rina.

“Ná ’n lang tyd wat ek nie in die ateljee was nie, was die opneem van die CD weer vir my baie inspirerend en lekker. Ek het dit so geniet om die musiek te sing. Die liedere se woorde inspireer en bemoedig my. My wens is dat al die liedere vir almal wat daarna luister tot groot seën sal wees.”

Sit terug en luister saam na hierdie terugflitse