“Ek is nog nie okei nie, maar ek sal nie toelaat dat hulle my vreugde steel nie,” het Willie, van die dorpie Cullinan in die noorde van Gauteng, aan Huisgenoot.com gesê.

Hy en sy vriend  Etienne Smith (57) was Vrydagaand, 9 Junie, omstreeks middernag op pad terug na Cullinan nadat hulle vroeër die aand saam uit was. Op die  R153-pad het hulle ’n pap band gekry en stilgehou om die wiel om te ruil. Met die stilhouslag het ses mans uit die veld langs die verlate plattelandse pad te voorskyn gekom. 

“Hulle het die eerste skoot geskiet en ons toe beveel om van die kar af weg te beweeg,” het Willie telefonies vertel. “Daar het weer ’n skoot afgegaan. Ek het gesien hoe hulle ’n wapen na Etienne se kop rig terwyl hy op sy knieë staan.” 

Twee van die rowers het toe vir Willie aan die arm gegryp, hom na Etienne toe gesleep en op die grond neergedruk. “Maar ek het opgespring en in die pad gespring en om hulp begin roep,” vertel Willie. Een van die rowers het hom toe met ’n staalpyp geslaan. Nog ’n rower het hom toe met ’n vuurwapen op die neus geslaan en beveel om stil te bly

’n Motor het die toneel genader, maar omgedraai en vinnig weggery toe die bestuurder sien wat aangaan. Maar toe ’n tweede motor aankom, het Etienne weer sy lewe gewaag deur tot in die pad te hardloop, sy arms te waai en te skree. “Toe ek weer sien het die verdagtes in die veld in verdwyn.” 

Die blou BMW het by Willie-hulle se motor stilgehou. Die insittendes het toe gewag tot Willie-hulle die wiel omruil en verder kon ry. Hulle is reguit na die Cullinan-polisiekantoor, waar hulle ’n klag van gewapende roof ingedien het. 

Willie was tydens sy telefoniese onderhoud met ons steeds hees weens sy krete om hulp. Dis net deur die genade dat die rowers nie een of albei van hulle geskiet nie. “Die engele het daardie aand oortyd gewerk,” vertel hy.