‘n Splinternuwe Afrikaanse jeugreeks het onlangs vir heelwat opwinding op sosiale netwerke gesorg toe dit gekoppel is aan ‘n vuisgeveg in ‘n klein plattelandse dorpie.

Volgens gerugte op Facebook en Twitter was die ouens van die Afrikaanse groep Dans Dans Lisa in ‘n geveg betrokke met ‘n lid van die gehoor.

Vinnig het foto’s en beeldmateriaal van die geveg in Strikfontein begin versprei. Maar een vraag het bly staan; “Waarom het ons nog nooit van Strikfontein gehoor nie?” Selfs as jy dit op Google soek sou jy hierdie plek nooit vind nie.

Die kamstige vuisgeveg en die drama daarna was egter alles deel van ‘n uitstekende bewusmakingsveldtog vir ‘n nuwe teleivisiereeks.

Huisgenoot het met die meesterbrein agter die Strikfontein-projek, Johan Cronje, gesels.

Wat is Strikfontein?

Strikfontein is 'n jeug-drama oor 'n aantal universiteits-kids wat ná hul eerste semester weg van die huis terugkeer na hul tuisdorp vir die vakansie. Hierdie dorp is Strikfontein.

Ons wil dit 'n vollengte reeks maak met die hoop om dit op die land se voorste uitsaai-platforms te kry. Daarom het ons reeds 'n aanlynbemarkingsveldtog vir Strikfontein begin in Julie - met die hoofdoel om die naam te bemark en die reeks aan die publiek bekend te stel nog voor dit op die lug is.