Die aktrise en komediant Marion Holm het Maandag ’n breinoperasie ondergaan.

dokter operasie

Marion, wat gehore gewoonlik laat skaterlag met haar eenvrou-vertonings het haar hart oop gemaak in ’n lang Facebook-inskrywing.

Sy het in September vertel dat sy vroeër vanjaar van haar vertonings moes kanselleer omdat sy vir borskanker behandel is. Nou moet sy weer van haar vertonings kanselleer, maar die keer omdat sy ’n breinvliesgewas het.

“Die kans is 90% dat dit goedaardig is en as dit eers verwyder is, is die kans ook 90% dat dit nie weer sal terugkom nie. Die operasie is geskeduleer vir 10 Oktober en ek is daarna 3 maande afgeboek,” skryf Marion op Facebook.

“Ek het gegaan vir ’n oogtoets om ’n nuwe bril te kry, omdat my linkeroog so verswak het. Toe stuur die optometris my na ’n oogspesialis en die stuur my vir ’n MRI en daar sien ons toe ek het ’n ‘meningioma’. Dis die Engelse woord wat in Afrikaans beteken ek het ’n breinvliestumor wat op die senuwee en bloedtoevoer van my linkeroog druk,” verduidelik sy.

Oor haar operasie vroeër vanjaar sê Marion in haar inskrywing: “Ek het borskanker gehad. Maar dit was so klein en so vroeg opgetel, dat dit net uitgesny is en ek net bestraling gekry het. Ek het nie ’n mastektomie gehad nie en ek het nie chemoterapie gekry nie. Ek voel dus net dankbaarheid. Dankie Vader, dankie, dankie, dankie.

“En dít is hoekom ek dit privaat wou hou: ek het dit maklik gehad. Ek wou nie simpatie hê of aandag trek nie. Daar is vroue wat dubbele mastektomies moet kry en deur erge chemo moet gaan. Húlle verdien aandag. Ek het slegs ’n ligte kopverkoue gehad, by wyse van spreke. So dit was die rede hoekom ek vertonings moes kanselleer.”

Sy sê sy skryf dit alles op Facebook, nié omdat sy ’n “fondsinsameling of simpatie wil hê nie” maar om vir mense die waarheid te vertel.

“My bootjie is in ’n storm, maar Hy laat my nie sink nie. So ek voel rustig en onbeskryflik dankbaar. Net oor een ding voel ek sleg: ek is uit my hart uit jammer vir die mense wat gaan ly onder die feit dat ek weer eens vertonings moet kanselleer. Ek vra bitter groot om verskoning.”

Marion het vroeg Maandagoggend ’n foto gedeel en die dokter, verpleegpersoneel en haar vriendin Marietjie bedank vir hul ondersteuning.

“Ek weet nie wat gaan gebeur nie, maar ek weet Hy gaan ons dra,” het sy by die foto geskryf.

Marion se vriende en aanhangers het met bemoedigende boodskappe gereageer en haar sterkte toegewens.