Binnekort gaan gehore in Amerika bekoor word met die mooi klanke van Jennifer Zamudio se stem – en boonop in Afrikaans!

[caption id="attachment_115290" align="alignnone" width="600"]Foto: Verskaf Foto: Verskaf[/caption]

Dié bekende sangeres wat met langer as ’n dekade in die plaaslike musiekbedryf spog, het Donderdag deurgedring tot die eindronde van ’n wêreldsangkompetisie wat Oktober in Nashville in die Amerikaanse deelstaat Tennessee plaasvind.

Sangers uit alle wêrelddele kan hul musiek inskryf vir die SuperXtar-sangkompetisie, waarna ondersteuners aanlyn vir hul gunstelinge stem. Eindelik word 12 finaliste aangewys.

Lees ook: Karen en Emo blaas nuwe lewe in geliefde liedjie

Gisteraand het Jennifer met ’n telling van 2 751 stemme teenoor 2 127 stof in die oë geskop van haar naaste teenstander, Morgan Galavan van Los Angeles.

“Ek is verlig en ongelooflik dankbaar dat die uitdunrondes nou verby is,” vertel sy aan Huisgenoot. “Dit was vreeslik senutergend om te wag op die finale bevestiging dat ek inderdaad deurgedring het tot die finaal.”

Jennifer het haar liedjie Sê Dit Harder ingeskryf nadat die hoof uitvoerende beampte van SuperXtar, George Ruiz, haar self gevra het om in te skryf.

Talle radiostasies, insluitend RSG onder leiding van die gewilde aanbieder van Tjailatyd, Amore Bekker, het ’n veldtog van stapel gestuur om stemme vir Jennifer se lied te werf.

“Ek is totaal uit die veld geslaan oor die enorme reaksie wat ek van veral RSG se luisteraars gekry het,” vertel sy. “RSG het soveel stemme vir my help invorder, en boonop ook binne ’n baie kort tyd.”

Lees ook: Moet hare waai? SA bekendes sê of hulle dink lyfhare aan mans moet bly of gly

Maar is sy nou senuweeagtig om Suid-Afrika op ’n internasionale verhoog te gaan verteenwoordig? “Geensins! Ek voel bevoorreg,” sê sy. “Hierdie tipe ding gebeur nie sommer met enigiemand nie. En veral omdat ek persoonlik gevra is om deel te neem, beteken dit soveel meer vir my.

“Al waaroor ek ’n klein bietjie benoud is, is die formaat van die eindronde. Die organiseerders het nog nie uitgelap presies hoe die kompetisie in Oktober gaan verloop nie.”

Sy weet wel dat die publiek weer vir hul gunstelingsangers gaan stem.

“Maar ek is ongelooflik opgewonde om Afrikaans in Nashville te sing!”

Hier is die lied wat Jennifer ingeskryf het:

  • Petrus Malherbe