Dis volgens nuwe inligting wat Maandag met die opening van die Afrika-olifantberaad in Botswana bekendgemaak is.

’n Geraamde 22 000 olifante is in 2012 onwettig in Afrika gejag. Dis effens minder as die 25 000 olifante wat in 2011 gestroop is, volgens ’n verslag wat ingedien is by die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies (Cites).

Volgens die Cites-verslag is die olifante op 42 plekke in 27 Afrikalande van kant gemaak.

“Met ’n geraamde 22 000 Afrika-olifante wat in 2012 onwettig doodgemaak is, word ons in die gesig gestaar deur ’n kritieke situasie. Die huidige voorkoms van olifantstroping in Afrika is steeds te hoog, en as dit so aanhou, kan dit binnekort totale uitwissing veroorsaak. Die situasie is veral ernstig in Sentraal-Afrika, waar die geraamde stroping twee keer so hoog as die vasteland se gemiddeld is,” het John E. Scanlon, die sekretaris-generaal van Cites, gesê.

Die stropingsdata is bekendgemaak by die Afrika-olifantberaad in Gaborone. Die konvensie oor olifante word aangebied deur die regering van Botswana en die Wêreldbewaringsunie (IUCN).

Sianied is in September 2013 gebruik om meer as 300 olifante in Zimbabwe se Nasionale Hwange-wildtuin van kant te maak in die “ergste enkele massamoord in suidelike Afrika die afgelope 25 jaar”, het die IUCN in ’n verklaring gesê.

Volgens die IUCN is daar is tans sowat 500 000 olifante in Afrika. Olifante in Sentraal-Afrika loop die ergste onder stropers deur. Tog, tensy dit verander, bedreig grootskaalse stroping selfs die grootste olifantbevolkings in Suider- en Oos-Afrika, het die IUCN voorts gesê.

Armoede en swak bestuur in lande waarin olifante voorkom, is waarskynlik die hoofoorsake van verhoogde olifantstroping die afgelope jare. Nog ’n oorsaak is ’n toename in die aanvraag na onwettige ivoor in verbruikerslande.

Die doel van die olifantberaad is om ooreenstemming te bereik oor die beleid om onwettige ivoorhandel te beëindig, en lewensvatbare olifantbevolkings in Afrika te verseker. Nog redes vir die beraad is om nasionale wette vir die stryd teen natuurmisdaad strenger te maak en samewerking tussen lande te verbeter.

- Sapa