Op die een of ander onverklaarbare manier het die masjien aangeskakel met die viertal binne-in.

Die kinders, tussen die ouderdomme van vier en agt, het by ’n herwinningswerkswinkel gespeel in Huizhou-Stad toe die ongeluk plaasvind. Die pa van die kinders, geïndentifiseer net as Shi, is glo die eienaar van die gebou. Shi en sy vrou het herhaaldelik vir hul kinders gesê om weg te bly van die gebou af omdat dit nie veilig is nie, maar met allerhande interessante goed om mee te speel by die terrein, was die kinders dikwels ongehoorsaam aan hul ouers.

'Shi en sy vrou het herhaaldelik vir hul kinders gesê om weg te bly van die gebou af omdat dit nie veilig is nie...'

Hul buurvrou, Wang Han (39), het die gille vanuit die werkswinkel hoor en onmiddellik vir Shi geroep. Shi het dadelik die kragkabel ontkoppel om die masjien af te skakel, maar dit was te laat. Die kinders was reeds baie ernstig beseer.

Shi en ander familielede het met behulp van elektriese gereedskap dele van die masjien uitmekaar gesaag in ‘n poging om die kinders uit die menger te red.

Twee van die kinders is op die toneel dood verklaar en ’n derde is later in die hospitaal tydens behandeling dood.

Die masjien kan net aangesit word deur twee skakelaars te aktiveer: die een op die menger, en die ander een die hoofskakelaar teen die werkswinkel se muur.

’n Ondersoek is aan die gang om te bepaal of die hoofskakelaar, wat veronderstel is om buite bereik van kinders te wees, wel aangelos was en of die kinders dalk dit self reggekry het om die hoofskakelaar aan te skakel.