Lynette Beukes, wat in haar 50’s was, het glo nog vroeër die middag ’n geselsie met ’n buurvrou aangeknoop voor sy inkopies gaan doen het.

’n Sekerheidsmaatskappy, paramedici van ER24 en die polisie is uitgeroep na ’n adres in Banketrylaan nadat Lynette se man en seun haar lyk blykbaar langs haar bed in die hoofslaapkamer ontdek het.

Toe hulle laatmiddag tuiskom, het hulle na haar gesoek en dié skokkende ontdekking gedoen.

Die verdagtes, wat glo net 15 minute in die huis was, het toegang verkry deur ’n ronde venster in die slaapkamer.

Daar is na bewering niks uit die huis gesteel nie, behalwe haar selfoon. Dit is nog nie sedert die voorval opgespoor nie.

Geslotekringbeeldmateriaal van een van die bure wys hoe die verdagtes oor die muur klim en dan ’n kwartier later die eiendom op dieselfde plek verlaat en in die straat af verdwyn.

Daar is gerugte dat Lynette met ’n das verwurg is. Van die ander bure beweer sy is met ’n duvet versmoor en toe daarmee toegegooi voordat die verdagtes spore gemaak het.

Die motief vir die moord is steeds onbekend en die polisie ondersoek die saak. Luidens Roodepoort Record was die kluis wel oop, maar daar was geen vuurwapens of ander waardevolle items in gewees nie.

Die Roodepoort-polisie kon nie vir kommentaar bereik word nie.

- Marizka Coetzer

Ekstra bron: roodepoortrecord.co.za