Kwalik ses dae nadat Amerika 59 Tomahawk-missiele op Sirië laat reën het,was Afghanistan Donderdag aan die ontvangkant van die volgende sarsie van die wêreldmoondheid se gevaarlike arsenaal – die GBU-3/B-bom (MOAB – “Mother of all bombs”) wat die Achin-distrik in die Nangarhar-provinsie in Afghanistan getref het. Dit was die eerste keer dat die Amerikaanse lugmag hierdie wapen ingespan het. Die aanval het gevolg nadat stafsersant Mark de Alencar van die Amerikaanse spesiale magte in die gebied gesterf het, alhoewel daar ontken word dat dit enigsins die rede vir die aanval was.

Tydens intensiewe gevegte in Afghanistan is verskeie soortgelyke bomme tot dusver ingespan om grotte wat na bewering deur die Taliban en Al Kaïda gebruik word, te teiken. Donderdag was dit egter die eerste keer dat die MOAB ingespan is.
“Dit is die regte ammunisie om versperrings deur IL te verminder en die momentum teen IL te behou,” het genl. John W. Nicholson, die Amerikaanse kommandeur in Afghanistan gesê.
Dit is onseker of enige burgerlikes deur die bom gedood is. Soos die gebruik is, het die Amerikaanse president, Donald Trump, hom na sosiale media gewend om oor MOAB uit te wei. In sy Twitter-boodskap het hy gesê: “Laat ons uit Afghanistan kom. Ons troepe word deur die Afghani’s vermoor wat ons oplei en ons vermors biljoene daar. Nonsens! Herbou VSA.”
Sy verdere reaksie was: “Almal weet presies wat gebeur het. Wat ek doen, is om my weermag toestemming te gee. Ons het die beste weermag ter wêreld en hulle het hul werk soos gewoonlik gedoen.
En het dit ’n boodskap aan Noord-Korea gestuur? “Ek weet nie of dit ’n boodskap stuur nie; dit maak nie ’n verskil of dit doen of nie doen nie,” het hy gesê. Hy kon homself ook nie daarvan weerhou om ’n vergelyking te tref tussen die afgelope agt weke en agt jaar nie. . . “Noord-Korea is ’n probleem, die probleem sal hanteer word,” het hy gesê terwyl hy geskimp het dat China besig is om werk te maak van die probleem.
Meer oor MOAB Dit is luidens berigte die grootste “konvensionele” bom in die Amerikaanse arsenaal. Dit bestaan uit sowat 8 165 kg plofstof wat met ’n valskerm vanuit die stertkant van ’n vragvliegtuig vrygelaat moet word.
In geheel weeg dié bom ongeveer 9 525 kg. Donderdag se bom is vanuit ’n MC-130-vragvliegtuig laat val. Satelietbystand maak seker dat hierdie vernietigende vrag vanuit die lug nader aan die teiken sal land as sy voorganger, die BLU-82, bekend as die Daisy Cutter, wat “net” 6 804 kg geweeg het. Die bom is só ontwerp dat dit ’n paar meter bo die grond sal ontplof en gevolgelik ’n vernietigende golf van vuur en die gepaardgaande ontploffing meters ver sal werp om troepe te dood, bome te verpletter, strukture plat te slaan en diegene wat nie regstreeks deur die ontploffing getref word nie, te demoraliseer.

Donald H. Rumsfield, die sektretaris van verdediging, het die voorval beskryf as ’n voorval wat nie daarop gemik is om tot oorlog te lei nie. Terselfdertyd het hy die bom as “nie klein nie” beskryf.

Die bom word amptelik die “Massiewe Geskut-lugontploffing” (Massive Ordonance Air Blast) genoem.

Dit is in 2003 ontwikkel. Daar is 15 van die eenhede gebou teen ’n kost van $16 miljoen (sowat R215 miljoen) per eenheid.

Die bom is gelykstaande aan 11 ton TNT. Die bom wat Hirosjima getref het, was soortgelyk aan 15 ton TNT. Die kragverplasing daarvan was gelykstaande aan 16 000 ton.

Bronne: nytimes.com, newsamed.com, theguardian.com, rt.com