SY IS gewoonlik net ’n vaal figuur in die agtergrond, met ’n kombers oor die arm en babasak in die hand soos ’n wafferse kinderoppasser. Elke keer dat die fotograwe naby kom, lyk dit of sy ineenkrimp, terwyl haar skattige halfsussie dan behoorlik blom.

Maar die teruggetrokke tienermeisie wat dikwels saam met Katie Holmes en Suri Cruise gesien word, is allesbehalwe ’n personeellid. Isabella Cruise (17) is die aangenome dogter van die Hollywood-sterre Tom Cruise en Nicole Kidman. En met sulke beroemde ouers is die kollig duidelik vir haar ’n pyniging.

Anders as haar beroemde ouers en stiefma het Isabella geen behoefte om gekiek te word nie. Sy lyk altyd stug en stuurs op foto’s en haar vriende sê sy verpes die aandag.

En dis nie net omdat sy dit haat as flitsende kameras in haar gesig gedruk word nie. Haar ongelukkigheid strek veel dieper, want sy voel sy is die lelike eendjie in ’n gesin van swane, en al een wat beslis niks van ’n glanslewe wil weet nie.

Nicole en Katie is albei rietskraal en Isabella se aangenome broer, Connor (15), is met ’n atletiese lyf geseën. Op 48 is Tom steeds goed gebou, al is hy aan die kort kant. Isabella, aan die ander kant, was nog altyd ’n tiener met kurwes en het sedert Suri (4) se koms nog 6,5 kg aangesit.

Sy is al mens in die Cruise-huishouding wat blykbaar nie in ’n lewe in die kollig belangstel nie. Connor volg al klaar pa Tom se voetspoor en het in Seven Pounds as ’n jong Will Smith verskyn. Nog ’n fliekrol wag nou op hom. Selfs hul stiefpa, Keith Urban, het as Grammy-bekroonde country-sanger naam gemaak.

“Connor en Tom praat oor rolprente en Connor se ontluikende loopbaan,” vertel iemand in die binnekring. “Isabella weet nog nie wat sy met haar lewe wil doen nie. In ’n gesin van drie akteurs voel sy soos die uitsondering.”

Sy voel ook sy het weinig met haar 31-jarige stiefma en Suri gemeen, sê mense na aan haar. Soos ’n vriend dit stel: “Tom hang saam met Connor uit en Katie en Suri doen inkopies. Daarom voel Isabella nooit of sy inpas nie.”

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 16 S