Sy sal egter nog nie “vry” van haar vonnis wees nie omdat sy die maksimum voorwaardes vir parool moet nakom.

Cézanne, wat op 17 Mei 2010 tronk toe is weens seksmisdade, het die paroolraad oortuig sy is gerehabiliteer.

Sy het aan al die vereistes vir parool voldoen, aan programme deelgeneem en “geleenthede gebruik om ’n verskil te maak”, het James Smalberger, adjunkhoofkommissaris van die departement van korrektiewe dienste (DKD), gister gesê.

Cézanne het verlede jaar amnestie van ses maande op haar tronkstraf van sewe jaar ontvang.

Dít het meegebring dat sy Vrydag drie jaar en drie maande – dus die helfte – van haar effektiewe vonnis van ses jaar en ses maande uitgedien het.

Sy moes minstens die helfte uitdien om vir parool in aanmerking te kom.

Die voorwaardes behels onder meer dat sy, wanneer sy nie by die werk of by ’n erediens in die kerk is nie, by die huis moet wees. Dít is huisarres.

Sy moet agt afsprake per maand met die DKD nakom. Van dié afsprake kan by haar huis of werk plaasvind of sy kan by geleentheid na die DKD se kantore gaan.