Vroeër Dinsdagoggend het Fanie du Preez in die Vereenigingse hof getuig hoe hy sy vrou en twee kinders in hul onderskeie kamers dood gevind het. Adv. Erik van der Merwe, vir die staat, het dit egter Dinsdagmiddag onomwonde aan Fanie gestel dat hy self sy vrou en kinders koelbloedig doodgeskiet het.

Volgens Fanie se bekentenis, wat Donderdag deur die hof as ’n verklaring aanvaar is, is hy gedwing om sy gesinslede te skiet. Fanie het te kenne gegee dat hy sy woorde anders moes gekies het.

Erik wou by Fanie weet hoekom hy eers van swart mans gepraat het en nou van Libanese. Fanie het geantwoord die een man het “dreadlocks” gehad. Hy het ook gesê hy was deurmekaar en het nie geweet wat om hom aangaan nie. Weer het Erik gesê Fanie jok en dat hy die polisie met sy verskillende verklarings wou mislei.

Fanie het getuig albei Libanese mans was gewapen. Hy weet egter nie wanneer hulle die 9 mm-pistool gevat het nie. Die ma en kinders is daarmee en met ’n .38-rewolwer geskiet.

Die beskuldigde het gesê een van die mans het hom katswink geslaan, maar hy het glo skote gehoor terwyl hy bygekom het.

Erik het voorgestel die Libanese het die vuurwapens in die dak weggesteek nadat hulle die drie koelbloedige moorde gepleeg het. Fanie het dit as heel doenbaar beskou, as twee mense betrokke is.

Die advokaat wou by Fanie weet hoekom die Libanese nie hul eie vuurwapens sou gebruik nie; hulle het baie tyd gehad. Fanie het nie ’n antwoord daarop gehad nie.

Lees ook: "Ek het nie my vrou en kinders doodgeskiet nie," sê Fanie du Preez

Nog iets wat Erik geopper het, was hoe die Libanese glo te werk gegaan het: Hulle vermoor die gesin koelbloedig, versteek die wapens in die dak en gooi dan die gesteelde goedere op die gras. Fanie het erken hy het die 9mm-pistool deur sluikhandel bekom, maar hou vol hy het nooit self daarmee geskiet nie. Hy het dit glo vir R1 000 gekoop, ammunisie uitgesluit. Die pistool was glo vir Thea bedoel, onder meer omdat die .38-rewolwer se terugslag te veel was.

Fanie het getuig het hy nie die pistool getoets om te kyk of dit werk nie.
Hy het gesê Thea het wel van die pistool geweet. Sy het glo gereeld op die skietbaan gaan skiet.

Die aanwysings oor hoe ’n mens ’n oliefilter in ’n knaldemper omskep het Fanie glo op YouTube gekry. A.o. Alberts het die oliefilter Saterdag in sy huis gevind. Fanie het getuig hy het nie vir die offisier gesê waar hy dit sou vind nie.

[caption id="attachment_142750" align="aligncenter" width="600"]Die oliefilter wat in 'n knaldemper omskep is. Die oliefilter wat in 'n knaldemper omskep is.[/caption]

Die doel van die knaldemper was glo om Thea se ore te beskerm.

Ondervraging het teruggekeer na die Libanese mans wat Fanie na bewering met ’n vuurwapen aangehou het. Fanie het gesê hulle het op die oggend van 3 Desember omstreeks 02:00 by sy huis opgedaag terwyl hy nog aan die werk was; iets wat hy glo gereeld gedoen het.

Toe Fanie glo die rewolwer skuif, het die een Libanese man hom glo gevra of hy ’n kans wou waag om hom te skiet. Fanie het ontkennend geantwoord.

Een van die mans het hom in die gang agtervolg, maar Thea het hom nie gesien nie. Erik wou by Fanie weet hoekom hy nie geskree het nie; hy het tog geweet daar kom moeilikheid.

Die saak gaan op Woensdag 26 Oktober voort.