Suid-Afrikaners het Donderdagaand omtrent op sosiale media gegons oor die verskyning van adv. Thuli Madonsela op die gewilde geselsprogram Republiek van Zoid Afrika, waarvan Karen Zoid die aanbieder is.

[caption id="attachment_115726" align="alignnone" width="600"]Foto: Anelia Loubser Foto: Anelia Loubser[/caption]

“Sjoe, daar is so baie boodskappe op my Facebook-blad oor Donderdagaand se episode,” het Karen Vrydagoggend opgewonde vertel.

“Die mense sê hulle het soveel bewondering vir adv. Thuli.”

Buiten adv. Thuli, het die voormalige Mej. Wêreld Rolene Strauss ook in die Republiek gekuier.

“Om mense soos sy en adv. Madonsela – mense vir wie ons omgee, wat nederig is en die wêreld ’n beter plek te maak – op die program te hê was ’n voorreg en inspirasie,” vertel Karen.

Tussen die geselsery deur het Karen ook ’n duet gesing saam met Vicky Sampson. Hul weergawe van African Dream het kort ná die program weer tot boaan die Suid-Afrikaanse iTunes-treffersparade geklim.

“Om saam met Vicky African Dream te sing was die kersie op die koek!” koer Karen. “Dit was ’n onvergeetlike optrede wat ek vir die res van my lewe sal koester.”

In volgende week se episode gesels Karen met Juanita du Plessis en Adriana Marais, die enigste Suid-Afrikaner op die kortlys om ’n eenrigtingsending na Mars te onderneem.