[caption id="attachment_159374" align="alignnone" width="600"]Dirk Prinsloo in sy sel in Belarus. Foto: Gallo Images. Dirk Prinsloo in sy sel in Belarus. Foto: Gallo Images.[/caption]

Luvuyo Mfaku, NVG-woordvoerder, het gesê hy kan nie in dié stadium enige kommentaar lewer nie.

“Die departement van internasionale betrekkinge (Dirco) hanteer die saak. Kommentaar sal gelewer word sodra Prinsloo in Suid-Afrika is,” sê Luvuyo.

Nelson Kgwete, Dirco-woordvoerder, het aan Eyewitness News bevestig Prinsloo sal Sondag in aanmerking kom vir parool.

Hy dien tans in ’n tronk in Belarus (ook bekend as Belo-Rusland) in Oos-Europa ’n vonnis van 13 jaar uit nadat hy in Februarie 2010 in die Baranowitsji-hof skuldig bevind is aan diefstal, bankroof en boewery.

Prinsloo is in Junie 2009 vasgetrek nadat hy ’n bank in Baranowitsji beroof het. Tydens sy verhoor is hy ook daarvan beskuldig dat hy ’n hangertjie by ’n Belarussiese meisie gesteel het, dat hy op pad uit die bank ’n vrou in sy pad aangerand het en dat hy ’n gewese meisie “gemartel” en gedreig het om haar te vermoor.

“Die departement het Prinsloo se saak en gevangenisstraf gemonitor,” het Nelson aan EyewitnessNews gesê.

“Ons weet sy paroolvoorwaardes word van krag. Die owerhede het ons ingelig hy kom die naweek vir parool in aanmerking.”

[caption id="attachment_159376" align="alignnone" width="600"]Cezanne Visser (Foto: Gallo Images) Cézanne Visser in die hof. Foto: Gallo Images[/caption]

Prinsloo, ’n advokaat wat intussen van die rol geskrap is, het op Interpol se rooi lys gekom nadat hy in 2006 na Rusland gevlug het. Hy was veronderstel om saam met Cézanne Visser verhoor te word weens onder meer onsedelike aanranding, verkragting, die vervaardiging van kinderpornografie en die uitlokking van minderjariges om onsedelike dade te pleeg.

Nadat Prinsloo gevlug het, is Visser alleen verhoor. Sy is in Februarie 2010 op 11 aanklagte skuldig bevind. Sy is tot sewe jaar tronkstraf gevonnis.

Dr. Llewellyn Curlewis, president van die Prokureursorde van die Noordelike Provinsies, het bevestig Cezanné Visser is ’n vry mens sonder enige swaard wat nog oor haar kop hang.

Cezanné is in Augustus 2013 op parool vrygelaat nadat sy meer as die helfte van haar vonnis van sewe jaar uitgedien het. Sy is onder huisarres geplaas.

[caption id="attachment_49197" align="alignnone" width="591"]Cézanne Visser saam met haar ma, Susan Lemmer, na sy vanoggend op parool vrygelaat is. Cézanne Visser saam met haar ma, Susan Lemmer, na sy op parool vrygelaat is. Foto: Huisgenoot-argief[/caption]

Die tydperk wat sy die res van haar vonnis op parool moes uitdien, het op 2 Januarie vanjaar verstryk.