AS JY teen Adriaan Strauss (24) rugby speel en jy sien hom glimlag, moet jy weet jy is reeds te laat. Want dan het hy dit reeds gedoen – deur die voorhoede gebars en jou platgeduik.

Hy is nie roekeloos nie, maar vir Adriaan is elke duikslag ’n meesterstuk. “Ek is dol oor dié fisieke aspek van die spel. Wanneer die eindfluitjie blaas, kyk jy terug en, wen of verloor, jy’s doodmoeg en tevrede dat jy alles uitgehaal het.”

Die haker en kaptein van die Cheetahs is rateltaai, maar hy vermurwe die oomblik dat sy oë op sy verloofde val. En vandag gebeur dit gereeld, want hy en Chantell van Heerden (25) wys ons die huis wat hulle in Bloemfontein laat bou.

Die eerste verdieping staan en die dak is op, maar baie werk moet nog gedoen word voor dit die plek sal wees wat hulle in hul gedagtes sien. “Ons is in die stadium van ons lewe dat ons wil vriende oornooi. Ons wil hê hulle moet kuier. Ons wil ons lewe saam geniet. Ons wil ’n lekker oopplanhuis hê met ’n verwelkomende, huislike gevoel,” gesels Adriaan.

Maar nou laat die selfversekerde rugbyspeler die vrou in sy lewe die woord verder voer – dit gaan immers oor sake van die hart. So vertel sy hulle gaan al twee jaar uit nadat hulle mekaar aan die Universiteit van Pretoria ontmoet het terwyl hy finansies en sy B.Com.-regte studeer het.

Op 28 Junie het hulle toe by ’n vakansieoord by Ficksburg verloof geraak. “Adriaan het gesê hy wil gaan boogjag en ek het hom geglo. Ons het nog voor sonsondergang in die bos gaan stap en toe ons op die kruin van die berg kom, het ek kerse en sjampanje gesien.” Adriaan luister glimlaggend met ’n ondeunde vonkel in sy oë terwyl Chantell verder vertel. “Hy het net ’n ongesette diamant gehad,” sê sy en wys ons die verloofring aan haar vinger.

Die kranige kitaarspeler het toe ’n kitaarsnaar gevat en dit as ’n ring gebruik. Chantell vertel: “Dit was so romanties...”

En om die feëverhaal mooi af te sluit sal hulle in Januarie op Kroonstad aan mekaar trou beloof.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 30 September 2010