Mnr. Suid-Afrika kom dalk in 2012 na jou skool toe! Adriaan Bergh skop op 17 Januarie in samewerking met Huisgenoot, YOU en DRUM ’n skooltoer af waarin hy hoop om leerders vir die nuwe jaar te motiveer.

Die toer sal meer as 50 skole in al nege provinsies en ’n beoogde 30 000 leerlinge insluit. Adriaan sê hy wil leerlinge graag inspireer om ’n gesonde, gebalanseerde leefstyl te volg.

“My ouers het die belangrikheid van balans by my ingeprent en as gevolg daarvan verstaan ek hoe belangrik dit is om sport, akademie en leierskap te balanseer,” sê hy.

Adriaan ondersteun die Suid-Afrikaanse Polisiediens se eenheid vir familiegeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings. Die toer sal ook help met bewusmaking en geldinsameling vir Friends of Child Protection, ’n geregistreerde liefdadigheidsorganisasie wat steun bied aan dié SAPS-eenheid.

Op 24 is dié jong Mnr. Suid-Afrika 2011 ’n fenomenale verskynsel. Op skool in Bela Bela het hy provinsiale kleure vir ses sportsoorte verwerf: krieket, rugby, gholf, tennis, landloop en tweekamp.

Tot onlangs was hy lid van die Vodacom Cup Bulls-rugbyspan en op die oomblik is hy ’n lid van Limpopo se o.23-gholfspan. Daarby het hy verlede jaar sy graad in bourekeningkunde aan die Universiteit van Pretoria klaargemaak en op die oomblik is hy besig met sy honneursgraad.

Hy het sy ondervinding op die sportveld, in die akademie, van sy reise en ’n sterk familie agtergrond saamgevoeg in ’n beweging genaamd Balanced 24/7, wat die grondslag van sy motiveringspraatjies vorm.

As jy belangstel om Adriaan in 2012 by jou skool te laat praat, bel die toerorganiseerder, Pieter Cornelius, by 0832298694 of stuur ’n e-pos na pieter@balanced247.co.za. Nog inligting oor Adriaan is beskikbaar op sy webtuiste by www.adriaanbergh.com.

Volg Huisgenoot op Twitter.