Sy het nou wel nie Idols 2010 gewen nie, maar Adeline Mocke se talente gaan dalk tog vir haar ‘n titel besorg. Die 22-jarige Adeline is een van vier finaliste in die Wonderbra Model Search 2011-wedstryd wat more-aand beslis word.

Tog het sy haar drome van ‘n musiekloopbaan nog glad nie laat vaat nie. Sy beplan om binnekort haar debuut-CD vry te stel.

Sy het tussen die voorbereidings vir die Wonderbra-wedstryd deur ‘n paar vrae vir ons beantwoord:

Huisgenoot: Waarom het jy ingeskryf vir die Wonderbra Model Search-wedstryd?

Adeline: Ek beproef graag nuwe dinge en ek het gedink: “Waarom nie?” Dit het net reg gevoel en dis tog wat saak maak: dat ek gemaklik voel daarmee.

H: More-aand is die groot aand. Hoe voel jy?

A: Ek kan jou eerlik sê dit is nie so stresvol soos Idols nie. Maar dis nogtans ‘n uitdaging. Baie mense herken my sedert Idols, maar nie almal weet dat ek eintlik maar ‘n skaam mens is nie. Die gedagte om in my onderklere op die verhoog rond te loop voor honderde vreemdelinge, is nogal skrikwekkend. Ek moet erken ek is op die oomblik nogal in ‘n toestand daaroor.

H: Maar hy het dan al in onderklere geposeer vir manstydskrifte?

A: Dit is nie naastenby so intimiderend om voor ‘n professionele fotograaf te poseer nie. Ek is gewoond daaraan. Maar ek het dit nog nooit gedoen met honderde oë op my nie. Ek swem nie eens voor my vriende in ‘n bikini nie, so dit verg al my moed om in my bra en broekie op die loopplank te verskyn.

H: Jy is ‘n model en ‘n sangeres. Wat verkies jy?

A: Die twee verskil hemelsbreed. Met Idols was ek meer gespanne omdat dit ‘n uitgerekte wedstryd was met baie take en beplanning. Vir die Wonderbra-wedstryd was dit sover net een fotosessie in Durban, so ek weet nie regtig wat om more-aand te verwag nie. Ek hou van sing en ek hou van modelwerk; beide is ‘n deel van wie ek is.

H: Al vier finaliste is pragtig. Hoe kom julle oor die weg?

A: Ek stem saam! Al die meisies is regtig mooi en ons lyk almal verskillend – elkeen het iets spesiaal wat haar onderskei. Dit gaan ‘n taai kompetisie wees, maar ons almal ondersteun mekaar. Daar is twee blondines en twee brunette in die wedstryd. Ek gaan my beste gee, maar ek dink nie ek gaan wen nie. Maar die hele ervaring was prettig en die meisies was gaaf.

H: Jou ondersteuners voel beslis anders.  Sal dit jou lewe verander as jy wen?

A: (LAG) Ek is seker een van die brunette gaan die titel vat, maar as ek wen, sal dit ongelooflik wees. Ek sal baie geëerd voel om ‘n ambassadeur vir Wonderbra te wees, maar ek besef ek sal groot skoene moet volstaan. Onthou, Kerry McGregor, Lieschen Botes en Elbe van der Merwe, is mense vir wie ek baie bewondering het. Ek weet ek is baie gelukkig om in die top 4 te wees en ek gaan beslis my bes doen om my ondersteuners trots te maak.

H: Hoe berei jy voor vir die finaal?

A: Baie van die voorbereiding is in my kop: om te fokus daarop om my beste te doen en dit te geniet, wen of verloor. Fisiek? Wel, ek is mal daaroor om te oefen en ek eet altyd reg. Ek hou daarvan om gesond te wees en ek oefen soveel ek kan. Ek is tevrede met my lyf, maar ek is nogtans skrikkerig om met ‘n deurtrekker voor mense te loop. Ek doen baie cardio om my bene, boude en maag ferm te hou, want dit lyk altyd goed in foto’s. En ek dieet nooit nie – ek kies net gesonde kos.