Adam Levine gaan glo twee keer met Behati Prinsloo trou.

Die Maroon 5-sanger en Namibiese model het in Julie verloof geraak. Hulle moes besluit waar hulle voor die kansel gaan staan: in Los Angeles, waar hulle woon, of in Namibië, waar haar ouers woon.

Adam het nou die blink plan gekry om twee huwelikseremonies te hou om hul familie en vriende die ongerief van reis te spaar.

’n Bron het aan Life & Style Weekly gesê: “Hy kon nie besluit waar om die troue te hou nie. Behati se ouers wil dit graag in Afrika hê, maar hulle besef ook dit sal beteken die paartjie se Amerikaanse vriende sal ver moet reis.”

Adam (34) en Behati (24), wil ’n intieme huwelikseremonie in Namibië hê, en ’n groter huweliksviering in Los Angeles vir hul Amerikaanse vriende en familie.

Adam, ook ’n beoordelaar op die werklikheidsprogram The Voice,  en Behati se liefdesverhouding het in Mei 2012 begin. Hy het haar in Julie op ’n romantiese plek in Los Angeles die jawoord gevra.