Wonderwerke gebeur steeds!

Dis wat Adam Barnard, een van die sexy Romanz-manne, gister uitgevind het nadat sy bakkie omgeslaan en gerol het.

Hy en sy verloofde, Almitra Botes, was op pad terug Pretoria toe nadat die vier hartebrekers by die Kgalagadi Park opgetree het, toe een van die bakkie se bande op die Van Zylsrus-pad in die Noord-Kaap gebars het.

“Dit het alles baie vinnig gebeur,” vertel ‘n verligte Adam.  Toe die band bars, het die bakkie dwars geswaai en begin rol: sommer twee keer en toe nog ‘n halwe keer!

“Gelukkig het ons stadig gery en ons albei het veiligheidsgordels aangehad.” Hulle het ‘n paar bloukolle opgedoen en Adam het ‘n harde hou teen die kop gekry. Hy is hospitaal toe waar x-strale geneem is en die dokters het bevestig alles is darem pluis.

Die bakkie het nie so goed daarvan af gekom nie. “Hy is afgeskryf,” vertel Adam.

Hy en Almitra haak volgende jaar op 6 Januarie die knoop deur.