“Absa se Huiseienaarspolis dek in werklikheid skade wat deur die mynbou-verwante aardskuddings veroorsaak word,” het die woordvoerder Dante Mashile gesê.

“Ons het sowat 1 100 eise in verband met die voorval op 5 Augustus ontvang; ons finaliseer dit soos die beramingsverslae deurkom.”

Die nuus volg op ’n studie wat Woensdag deur Justmoney uitgereik is.

Justmoney is ’n webtuiste wat finansiële raad aan verbruikers bied.

Daar is in die studie ontdek minstens vyf versekeraars sou nie uitbetaal vir aardbewing-skade aan huise as hulle bevind dit is deur mynbou-aktiwiteit veroorsaak nie.

Die vyf is glo drie van die vier groot banke – Standard Bank, Absa en Nedbank – en twee spesialis-versekeraars, MUA en Addsure.

’n Aardbewing van 5,5 het die Noordwesprovinsie op 5 Augustus getref en die middelpunt was in die myndorp Orkney. ’n 31-jarige man is dood. Minstens 34 mynwerkers is beseer en meer as 600 huise is beskadig.

Dante het gesê die studie is nie op feite gegrond nie en die bank gaan sy kliënte uitbetaal.

“Ons is volkome daartoe toegewy om te verseker ons klante wat deur die bewings geraak is, word so gou moontlik gehelp,” het hy gesê.

- Sapa