“EK HET ’n droom wat die wêreld nog moet sien . . .’’

Wat jou net laat wonder: Hoeveel drome kan ’n man dan nou eintlik hê?

Die krieketheld AB de Villiers is immers reeds een van die wêreld se beste kolwers, hy is feitlik die wêreld se top-eendagspeler, en hy is pas aangewys as Suid-Afrika se internasionale speler van die jaar.

Maar nou gaan die man wat so gereeld vir die Proteas en die Delhi Daredevils skitter, krieketaanhangers van hier tot in Nieu-Delhi van hul stoele laat afval – as die nuwe sangsensasie AB!

Ja, die man sing sowaar. AB het ’n verskuilde talent wat niks met balle en kolwe te doen het nie. Sy eerste album, Maak Jou Drome Waar, is trouens reeds op die winkelrakke.

AB en Ampie du Preez (28), die bekende musikant voorheen van ’n Man Soos Jan-faam, span kragte saam vir die album Maak Jou Drome Waar en meer as 10 000 mense het op YouTube al na die musiekvideo gaan kyk.

‘‘Maak Jou Drome Waar – dis my leuse in die lewe,’’ verduidelik AB. “Ons wil albei hê mense moet hul drome najaag, en dit is ook die boodskap wat ons met die musiek wil oordra.’’

Die titelsnit is ’n gospelliedjie en hulle glo onwrikbaar sonder hulp van Bo sou geeneen van hulle ooit enige struikelblokke kon oorkom nie. ‘‘Soos die woorde van die liedjie sê: Hy is altyd daar om jou hand vas te hou.’’

Op die album is ook die enkelsnit Show Them Who You Are waarmee hulle verlede jaar die waters getoets het. En die reaksie was oorweldigend: Nadat dit die eerste keer op Jacaranda 94.2FM gespeel is, het die radiostasie binne 30 sekondes meer as 600 SMS’e gekry.

AB en Ampie beskryf die album as volwasse, kontemporêre musiek. En een van die liedjies waaroor hulle besonder liries raak, is een wat hulle ook saam geskryf het, Madibaland.

Ampie gryp sy kitaar en AB val weg: ‘‘Madibaland, jy leef binne my hart, Madibaland. Al die pyn en smart, die ketting van haat afgebreek, jy’t dit omgekeer, jy’t ons land se taal verstaan.’’

AB se oë is toe; die twee is weggevoer in hul eie wêreld van klank. AB se stem rasper; Ampie s’n is ’n suiwer en soet stem – saam vul hulle mekaar volmaak aan.

Madibaland is hul ode aan oudpres. Nelson Mandela en dis geskryf op AB se ouers se plaas in Bela-Bela.

‘‘As ek probeer terugdink, is alles nogal wasig,’’ grap Ampie. Daar was hout, braaivleis en bier en toe kook hulle. ‘‘Waar party liedjies ’n week vat en ander dalk twee dae, het ons dié een binne 30 minute geskryf gehad. Dit het net gebeur.’’

AB voeg by: “Hy’s ons held en ons wil hom net eer vir dit wat hy vir die land gedoen het . . .’’

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 26 Augustus 2010