[caption id="attachment_68777" align="aligncenter" width="600"]Christo en Nicko Christo en Nicko Snyman[/caption]

“Ek is baie trots. Enige ouer leef in sy kind se drome en prestasies. Ek was stomverbaas en in my skik!” het hy ekstaties vertel. “Duidelik sy pa se kind,” het hy op Twitter gespot.

Nicko is in gr. 10 aan die Hoërskool Stellenberg in Bellville en het tydens gisteraand se akademiese prysuitdeling erekleure gekry vir sy punte in 2013. “Hy het ’n A-gemiddeld gehandhaaf,” vertel Christo.

Nicko neem onder meer wiskunde, natuur-en-skeikunde en drama. “Ons het ’n lang gesprek oor die drama gehad, want dis nie suiwer akademies nie. Maar hy stel in daardie rigting belang en hou daarvan.”

Hy is ook baie lief vir musiek en neem musiek as byvak, vertel sy musikale pa. “Sy musiekdroom is daar, maar hy is nie seker of hy dit sy beroep wil maak nie. Hy was verlede jaar lid van die Tygerberg-kinderkoor, hy het ’n goeie oor en wanneer ons optree, is hy agter die klankbord. Dis baie lekker.”

Hoewel Nicko beslis universiteit toe wil gaan, is hy nog nie seker in watter rigting hy wil studeer nie.

Christo se ander drie seuns is nog baie jonk, vertel hy. Eloff (8) is in gr. 3, Christoff (6) is in gr.1 en Daniël (4) is nog by die huis.

Intussen skryf die Broers hard aan liedjies vir ’n nuwe, oorspronklike Broers-album. Cobus Snyman verwerk ook tans Viljoen Retief se album.

Loren Pienaar