Dangerous! Crikey! Amazing!”

Wyle Steve Irwin se aanhangers sal nog onthou hoe opgewonde die Aussie TV-ster oor omtrent alles met vier bene of twee vlerke kon raak.

Toegegee, mense wat voel wilde diere hoort in hul natuurlike habitat en moet daar met rus gelaat word, het soms nie van sy benadering gehou nie. Maar aan sy liefde vir diere kon nie eens dié twyfel wat graag met die hiperaktiewe “Crocodile Hunter” die gek geskeer het nie.

Sy seun, Robert, kan net so bos gaan oor die natuur. Die blonde mopkoppie wat hom destyds saam met sy pa, ma Terri en ousus Bindi (nou 18) aan allerlei fauna verwonder het, is nou ’n 13-jarige tiener . . . en hy is g’n kamerasku nie, het kykers van Jimmy Fallon se The Tonight Show onlangs agtergekom.

Trouens, toe Robert onlangs op die gewilde Amerikaanse kletsprogam verskyn, was hy so gretig om sy komediant-gasheer aan ’n paar ander spesies bekend te stel dat hy oënskynlik skaars van die TV-kameras bewus was.

“Dis so cool om jou so te sien . . . jy is eintlik jou pa,” sê Jimmy droogweg toe Robert in ’n kakiehemp en kortbroek daar uitslaan, kompleet soos Steve. Interessant genoeg was dié ook jare gelede, toe Jay Leno nog die aanbieder was, op The Tonight Show.

En die jong Robert is duidelik klaar ’n wandelende wildlewe-ensiklopedie. Toe Jimmy ewe ’n albumfoto te voorskyn haal waarop Steve ’n soort akkedis aan sy babaseun wys, trek Robert net daar los met ’n beskrywing van die reptiel en sy dieet.

Daarna wys hy ook ’n paar diere wat hy saamgebring het aan sy kastig skrikkerige gasheer: ’n dwergkrokodil en besonder raserige armadil-spesie (“hy lyk soos Donald Trump se haarstuk”, reken Jimmy), ’n soort luislang en ’n baba-luidier.

Die sosiale media het agterna gewemel van opmerkings dat Robert sy pa se ewebeeld is en dieselfde soort persoonlikheid het en energie uitstraal en dat Steve supertrots sou gewees het.

Daar was ook ’n twiet van sus Bindi: “Trane in my oë . . . Robert, jy is elke dag meer en meer soos Pa. Dankbaar om jou suster te wees.”

Robert het reeds onder meer sy eie TV-reeks, Wild But True, aangebied. Dis op Discovery Kids uitgesaai. Hy was ook die medeskepper en -illustreerder van ’n boekreeks oor dinosourusse en neem elke jaar in Queensland, Australië,  aan ’n krokodilnavorsingsekspedisie deel.

  • Steve is in 2006 op net 44 dood toe ’n pylstertvis hom tydens die verfilming van ’n dokkie in die hart steek.

Bronne:  nbc.com/the-tonight-show, australiazoo.com.au, Facebook, YouTube, eonline.com, telegraph.co.uk