’n Aardbewing het talle onkant betrap toe Suid-Afrikaners in die noorde van die land Maandag vroegdag ’n aardbewing beleef het.

Volgens die United Stated Geological Survey (USGC) het die aardbewing – ’n stewige 5,2 op die Richterskaal – om 05:08 plaasgevind.

Die aardbewing het volgens die USGC 5 km onder die aardkors ontstaan en die episentrum was 8 km van die Noordwes-dorpie Stilfontein, en ongeveer 41 km van die studentedorp Potchefstroom.

Inwoners van onder meer Pretoria, Johannesburg, Orkney en Klerksdorp het dit ook gevoel. Ons het ons lesers gevra om self van hulle te laat hoor waar hulle dit oral gevoel het.

Huisgenoot-leser Petro Carstens sê sy het aanvanklik gedink dit is ’n trein wat naby hulle verby gaan.

Elize Botha was baie naby aan die episentrum. “Ek was in Stilfontein. Dit het gevoel of iemand my huis optel, rond en bont skud en hom weer neergooi. Ek het my wind uit geskrik,” vertel sy.

Sarah Havenga van Klerksdorp skryf: “Sjoe, dis nie lekker om so wakker te skrik nie, hoor.”

Christa Smith van Klerksdorp vertel: “Dit was scary, jy weet nie of jy moet stilstaan of hardloop nie.”