Een mens is dood ná ’n aardskudding Dinsdag, het reddingswerkers bevestig.

“’n Man van 31 is dood aangetref op ’n ou myndorpie by Orkney, Noordwes,” sê Luyanda Majija, ’n ER24-woordvoerder. “Hy het onder puin gelê.”

Reddingswerkers was op die myndorpie op soek na mynwerkers wat vermoedelik in 11 skagte vasgekeer is.

Party mynwerkers op Orkney is Dinsdag ná ’n aardskudding vasgekeer, het reddingswerkers gesê.

Luyanda sê ook hulle het nuus ontvang die skudding het ’n beduidende impak op een myn gehad.

“Ons span is op pad na die myn waar mynwerkers vermoedelik in 11 skagte vasgekeer is,” het Luyanda gesê.

Sy kon nie onmiddellik die naam van die myn bevestig nie.

Die Geologiese Opname van die Verenigde State het na bewering gesê dit was ’n aardbewing wat 5,3 op die Richterskaal gemeet het.

Die sowat minuut lange skudding is in verskeie dele van die land gevoel; geboue het geskud, vensters het gekletter en geboue is gevolglik ontruim.

Die ingenieursgeoloog Oliver Parker het eNCA vertel dit was ’n aardbewing en het die geskiedenis van aardbewings op die subkontinent in diepte verduidelik.

Berigte van geboue wat in Johannesburg, Umhlanga en elders ontruim is, het Twitter oorval.

Sapa se verslaggewer in Durban het gesê mense in Durban Bay House met sy 32 verdiepings – een van die land se hoogste geboue – in ontruim.

- Sapa