’n Agttienjarige student in logistieke bestuur was Maandag glo vir die skokkende voorval op die kampus van die Ohio-staatsuniversiteit (OSU) verantwoordelik. Hy is deur die polisie doodgeskiet nadat hy ’n motor en daarna ’n slagtersmes ingespan het om talle mense op die kampus te beseer.

Op ’n Facebook-blad wat na bewering dié van Abdul Razak Ali Artan is, blyk dit die jong man het ernstige griewe teen Amerika openbaar. Daarin word onder meer geskryf hy is siek en sat oor sy Moslem-broers en -susters wat oral gemartel en doodgemaak word. “Ek kan dit nie meer verdra nie.” Hy verwys ook na die “lone wolf”-aanvalle en sê ’n ooreenkoms en vrede moet met “Dawla in al sham” gesluit word. Dawla in al sham is ook ’n ander naam vir die Islamitiese Staat.

Maar hy rig ook ’n bloedstollende waarskuwing: “Ons sal julle nie laat slaap voor julle nie vrede met die Moslems maak nie. Julle sal nie enige vakansie kan vier of geniet nie.” Hy gaan voort deur die name van glansryke volgelinge van die geloof te noem wat volgens hom “uitverkoop” het: Yasir Oaphi, Omar Suleiman, Nouman Mufti “en die lys gaan aan”. Hy moedig mense aan om eerder aan hul held, Imam Anwar Al-Awlaki, gehoor te gee. “Om af te sluit: Ek is gewillig om ’n biljoen ongelowiges in weerwraak te gebruik.” Abdul Razak Ali Artan was na bewering ’n Somaliese vlugteling wat sy land in 2007 verlaat en na Pakistan gevlug het. In 2014 het hy na Amerika gekom.

Daar is nog nie uitsluitsel of die skrywe wel politiek gemotiveerd is en of dit dalk net deur iemand geskryf is wat sielkundige hulp nodig gehad het nie.

Die president van die Somaliese gemeenskapsvereniging in Ohio, Hassan Omar, het gesê die nuus dat dit ’n Somaliër was wat die aanvalle uitgevoer het, is ontstellend.

“Elke Somaliër bel my, en almal huil,” het hy aan NBC News gesê.

“Ons is in ’n toestand van skok. Ons bly in ’n vreedsame gemeenskap in Columbus. Hierdie gaan die lewe van almal raak. Ons is Amerikaners, ons wil nie hê mense moet sulke probleme veroorsaak nie.

Wie is Anwar Al-Awlaki?

Hy is glo deur die Amerikaanse owerheid as ’n senior werwer en motiveerder beskou wat by verskeie terroristeoperasies van Al-Kaïda betrokke was.

Hy het op 30 September 2011 in ’n hommeltuigaanval gesterf.

Die nuusagentskap Al Arabiya sou hom as die “Bin Laden van die internet” bestempel. Daar word ook beweer dat hy vir drie van die beweerde 9/11-kapers gepreek het.

Bronne: nytimes.com, wikipedia.com, nbcnews.com