Die Uber-taxibestuurder Edward Caban het die afgelope naweek in Newport Beach, Kalifornië, behoorlik sy hande volgehad met ’n passassier wat duidelik te veel drankies weggeslaan het.

In ’n video, wat sedertdien wêreldwyd opslae gemaak het, raak Edward so geïrriteerd met sy kliënt wat nie behoorlik vir hom aanwysings kan gee nie, dat hy later stop om hom af te laai. Dan breek alle hel los.

Die ontstoke passassier, ene Benjamin Golden (32), is eers traag om uit te klim. Dan sommer so in die uitklim, kom hy arme Edward by, rand hom aan en trek tot sy hare! ’n Desperate Edward pluk dan pepersproei uit om sy aanvaller af te weer, spring dan uit die motor en gil vir mense om die polisie te bel.

Benjamin is glo wel in hegtenis geneem. ’n Video van die onderonsie, wat op ’n kamera op die taxibestuurder se motor se paneelbord vasgevang is, is al meer as 1,9 miljoen keer op YouTube gekyk. Die grootkoppe by Benjamin se werk by die kitskosgroep Taco Bell was duidelik nie beïndruk nie. Hy is glo summier afgedank.

Dis nie die eerste keer dat sy dronk eskepades hom in die moeilikheid bring nie. Benjamin is glo drie jaar gelede ook in Louisville, Kentucky, vasgetrek vir dronkbestuur.

WEES GEWAARSKU: DIE VIDEO BEVAT KRU TAAL.

BRONNE: OOYUZ.COM, EWN.CO.ZA, CNBC.COM