’n Gewapende man het skote afgevuur in ’n klein ruimte en tafels in die dobbelplek aan die brand gesteek.

Altesaam 36 mense is dood en 54 beseer in ’n aanval in Resorts World Manila in die Filippyne.

Brandbestryders het 36 lyke in die rokerige dobbelplek gevind. Volgens die Manila-polisiehoof, Oscar Albayalde, het almal gesterf van versmoring en rookinaseming. Geen lyke het skietwonde gehad nie.

Resorts World Manila het in ’n verklaring op Twitter vir begrip en steun gevra. “Die maatskappy rou saam met die families. Ons is vasbeslote om die beseerdes en families van die slagoffers ten volle te steun,” sê Lawrence Ho, biljoenêr-eienaar van Resorts World Manila.

“Ná ’n voorval soos dié, veral by Resorts World Manila, sal ons die sekuriteit opknap. Dit is ’n probleem waaraan ons aandag gaan skenk,” sê Ho aan Reuters.

Die slagoffers is dood aan verstikking en rookinaseming.

Ernesto Abella, ’n woordvoerder vir die president, Rodrigo Duterte, het aan Reuters gesê daar is op die oomblik geen bewyse dat dié aanval verband hou met die huidige geveg tussen die regeringsowerheid en die IS nie.

Die aanvaller se naam is nog nie bekend nie, maar volgens news.abs-cbn.com het hy homself in ’n hotelkamer om die lewe gebring.

Bronne: news.abs-cbn.com, Reuters, CNN, Time.com