Die polisiefoto van sy gesig het verlede jaar amper die internet laat ineenstort en hom die bynaam Hot Felon besorg.

Nou is die veroordeelde misdadiger Jeremy Meeks (30) weer ’n vry man. En sy aantreklike voorkoms het hom ’n winsgewende modelkontrak in die sak gebring – sy misdaadrekord vir vuurwapenbesit en bendegeweld ten spyt.

Nadat sy gesigfoto op die polisiedepartement van Stockton, Kalifornië, se webtuiste geplaas is, het vroue – en mans – geswymel oor sy sterk gelaatstrekke en smeulende voorkoms. Kort voor lank het meer as 100 000 mense net op Facebook aangedui hulle hou van die foto.

Lees ook: Namibiese supermodel Behati Prinsloo en haar man, Adam Levine, verwag eersteling!

Dit het die pa van twee oornag in ’n wêreldsensasie verander en die aandag getrek van modelbase wat daar en dan vir hom ’n kontrak aangebied het, al was hy agter tralies. Maar al het hy tronkstraf vir sy misdade uitgedien, hou van sy bewonderaars vol sy enigste oortreding was dat hy “jou hart steel”. Ná sy vrylating vroeër dié week het Jeremy sy dankbaarheid teenoor sy vriende en aanhangers op sosiale media betuig. “Ek wil my gesin en almal bedank vir al jul liefde, steun en gebede,” het hy geskryf by ’n foto van hom en sy nuwe bestuurder, Jim Jordan van White Cross Management. “Ek is oorweldig en dankbaar oor wat voorlê. Ek is gereed.”

Voor hy tronk toe is, het Jeremy se bestuurder aan die media gesê sy kliënt het potensiële onderskrywingsooreenkomste met “modelagentskappe wêreldwyd” asook “werklikheidsprogrambelangstelling”, maar hy wou nie verder uitbrei nie. Hy het bygevoeg hy het die misdadiger by sy agentskap ingeskryf, want “almal verdien ’n tweede kans”.

“Toe ek Jeremy se foto die eerste keer sien, was die eerste ding wat by my opgekom het, ek moet die ou help,” sê Jim.

“Nadat ek met sy vrou gepraat en sy familie ontmoet het, het ek ’n ware gevoel gekry van wie Jeremy as man en pa is, om nie te praat van hoe mooi hy van binne en buite is nie.” Hy beweer ook sy foon het onophoudelik gelui met aanbiedings van die wêreld se “vyf topontwerpers” en ook televisievervaardigers, al het hy nie gesê wie nie.

Lees ook: Bobby van Jaarsveld wys sy klein prinses, Armani – kyk dié skattige foto! Ter voorbereiding van nabyskote het Jeremy elke dag 500 opsitte en 500 opstote in sy sel gedoen. “Ek is op ’n plek waar ek vir my gesin sal kan voorsien en werklik my lewe kan verander,” het hy verlede maand uit die tronk aan ’n TV-nuusspan gesê. “Ek het nooit gedink die wêreld sou vir my erkenning gee vir my voorkoms nie. Ek voel besonder geseën en baie dankbaar.” Tydens sy aanhouding het Jeremy elke maand honderde briewe van aanhangers ontvang, meestal vroue wat hul liefde vir hom verklaar. Maar hy stel nie in die aandag belang nie. Hy is al 10 jaar met sy hoërskoolliefde, Melissa Meeks, getroud en die egpaar het twee kinders. Maar ondanks sy talle aanhangers, is Jeremy nie gewild by Kalifornië se polisie nie.

A photo posted by JEREMY MEEKS (@jmeeksofficial) on

A photo posted by JEREMY MEEKS (@jmeeksofficial) on

In die afgelope 10 jaar is hy vir diefstal, bedrog en vervalsing in hegtenis geneem en Stockton se polisiedepartement noem hom “een van die gewelddadigste misdadigers in die gebied”.

Maar dit verhoed nie dat sy aanhangers hom steun nie. Party het vinnig gereageer op Jeremy se eerste foto op Instagram as ’n vry man. Een het geskryf: “Hy is vry, meisie!!! Hmm dank die hemel!”

Lees ook: 7 koninklike kleingoed sal jou hart vermurwe

’n Ander een het hom “vry en piekfyn!” genoem. Maar nie almal is beïndruk nie. Victoria Pannell sê: “Ek hoop jy kry geen akteursrolle bo mans en vroue wat geoefen en hul beroep bestudeer het nie. Ek wens jou sukses toe, maar nie bo mense wat waarlik verdien om voor die kamera te wees nie, danksy hul harde werk en nie danksy ’n taamlik aantreklike gesigsfoto nie.”

En Coco King het laat hoor: “So baie dors vroue wat enigiets sal vat wat goed lyk. Vanselfsprekend is hy nie goed nie. Die man is ’n misdadiger en niks meer nie.”

– Latashia Naidoo

BRONNE: dailymail.co.uk, people.com, bbc.co.uk, yahoo.com

Ander stories op Huisgenoot.com

Beïndruk motorgeesdriftiges as jy weet SA se Motor van die Jaar is . . .

Ma takel stigma: ‘My dogter is meer as net die geboortemerk op haar gesig’

Kyk net! Kaalbas Sharon Osbourne herskep Kim K se naakselfie

‘Dit is net God se genade’: Tweejarige terug by die huis ná boetie hom uit swembad red

Kyk: Oscar Pistorius se eks is smoorverlief!