Sally Thompson het is iets snaaks in haar mond gevoel en was verstom toe sy sien daar val ’n klein diamantjie uit die eier. “Ek probeer ’n bietjie gewig verloor voor die troue en kook toe ’n paar eiers om die volgende paar dae te eet,” verduidelik die toekomstige mevrou. “Ek het een afgedop en ’n hap geneem toe ek iets soos ’n gruisklippie in my mond voel.

“Toe dit op die bord val, kon ek nie verstaan waar dit vandaan kom nie – ek dog dit kom uit my liggaam. Die stukkie juweliersware het op my bord beland. Dit kon net uit die eier gekom het.”

Sally, van Carlisle, Kumbrië, trou in Mei vanjaar met die groot liefde in haar lewe, Steven Warwick.

Deskundiges reken die hoender het die diamant ingesluk.

Collette Francis, ’n voormalige plaaswerker, verduidelik wat moontlik kon gebeur het: “In hierdie geval kon dit wees dat die hoender diamant insluk, dit sit in die uitgang van die binnegoed vas en die eier tel die diamant op op sy pad uit.”

Sally het intussen die diamant geneem vir waardasie en ’n ietwat ongelukkige ontdekking gedoen.

Die klein blink klippie is toe nie ’n diamant nie, maar ’n kunsdiamant – ’n sintetiese siersteen wat dikwels in juweliersware gebruik word.

Hoe dit ook al sy, Sally glo die blink klippie dui op ’n goeie tyding.

“Ek is bygelowig – as ek ’n veer raaksien, tel ek dit op – en ek dink daar steek iets agter die tydsberekening van hierdie verskyning,” sê sy.

“Ek weet nie wat dit beteken nie, maar dis baie surrealisties.”

Bronne: Mirror.co.uk, Dailymail.co.uk