“Die tydsberekening van die bewyse is belangrik. Die tydsberekening van die bewyse moet oorweeg word,” het die aanklaer, Gerrie Nel, gesê.

“U Edele, die konsultasie het ná die beskuldigde se getuienis plaasgevind. Daar moet ’n rede wees hoekom die konsultasie toe plaasgevind het.”

Gerrie het gesê hy kon nie die tydsberekening van die forensiese sielkundige dr. Meryll Vorster se getuienis verstaan nie as dit deel was van die verdediging se saak.

“U Edele, kan dit nie beskou word as ’n gebeurlikheidsplan nie?” het Gerrie gevra.

Meryll is Maandag deur die verdediging geroep nadat sy die Paralimpiese atleet op 2 en 7 Mei geëvalueer het.

Gerrie het ’n paar sake in die rekord ingelees waar ’n beskuldigde vir psigiatriese waarneming gestuur is.

Barry Roux, SC, vir Oscar, het die aansoek teengestaan en het gesê die staat is verkeerd om op daardie sake te steun.

“Die feitelike basis ondersteun nie die staat nie. Dit is net oëverblindery om ’n tweede mening te kry, en dit lei eenvoudig nêrens,” het Barry aangevoer.

“Die aansoek het geen meriete nie; ek moet noem dat ons nog ’n getuie roep om oor Oscar se kwesbarheid te getuig.

“Buiten die afwesigheid van meriete is die aansoek ook voortydig,” het Barry gesê.

“Op die oomblik moet ons emosie buite rekening laat. Dr. Vorster het gesê daar moet na die feite gekyk word. Die aansoek het nie meriete nie.”

Gerrie het gesê dit is wel nodig om Oscar vir waarneming te stuur, al beteken dit die saak word uitgestel.

Die Paralimpiese atleet staan tereg weens moord nadat hy sy meisie, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag verlede jaar deur ’n geslote deur in sy huis in Pretoria geskiet het.

Oscar het onskuldig gepleit; hy beweer hy het Reeva vir ’n inbreker aangesien wat hom wou aanval. Die staat voer aan hy het haar tydens ’n rusie geskiet.

Gerrie het gesê daar moet gevaarligte vir die hof flikker ná Meryll se getuienis en hulle moet stappe doen.

“Die beskuldigde was nie die indrukwekkendste getuie nie; is dit nie die rede hoekom ’n sielkundige geraadpleeg is nie?” het hy gevra.

Die aanvanklike verweer was vermeende selfverdediging, toe outomatisme, en nou geestesiekte. Hy het gesê die hof moet weet wat die verweer is. Hy het gesê die hof moet weet as die geestesiekte ’n invloed gehad het op wat gebeur het.

“Die risiko wat die verdediging geneem het om dr. Vorster in hierdie stadium te roep, toon dat ’n geestesiekte dalk ’n rol gespeel het,” het Gerrie gesê.

“Dit is nie die einde van die saak nie.”

Gerrie het gesê hy stem saam met Barry dat emosies buite rekening gelaat word.

Hy het gesê die staat reageer op bewyse van die verdediging en het net die aansoek gebring om die wet na te volg.

“Ek sou ook so emosioneel gewees het as ek ’n getuie geroep het en die getuie het die deur oopgemaak vir die verwysing van my kliënt,” het Gerrie gesê.

Oscar staan ook tereg op aanklagte van die oortreding van die Vuurwapenbeheerwet. Hy word aangekla van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie, en die roekelose skiet van ’n vuurwapen in die openbaar.

Hy het onskuldig gepleit op alle aanklagte.

’n Besluit oor die aansoek gaan na verwagting Woensdagoggend halftien oorhandig word.

- Sapa