Die TV-nuuskanaal het berig dat ’n saak van moord, poging tot moord en ontvoering teen Thamsanqa Jantjie en nog twee mans in 2004 na die hooggeregshof in Johannesburg verwys en in November 2006 afgehandel is.

Die uitkoms is onbekend omdat die hofdossier leeg was toe verslaggewers van eNCA ondersoek instel. Hulle het hof- en polisierekords geraadpleeg en vasgestel dat hy skuldig bevind is aan diefstal en drie jaar tronkstraf opgelê is.

Hy is in Julie 1997 aangekla van huisbraak en in April 1998 opsetlike saakbeskadiging. Hy is ook in September 1994 aangekla van verkragting, maar is later vrygespreek.

Thamsanqa was Dinsdag enkele meters weg van onder meer die Suid-Afrikaanse pres. Jacob Zuma, die Amerikaanse pres. Barack Obama, die Kubaanse pres. Raul Castro, en Madiba se weduwee, Graça Machel, tydens verrigtinge tydens Madiba se gedenkdiens in die FNB-stadion in Johannesburg.

Hy het gesê hy het ’n skisofrenies episode ervaar nadat die dowe gemeenskap sy gebaretaal tydens die gedenkdiens as brabbeltaal afgemaak het. – Sapa