’n Vrou wat by die huis woon, is Donderdag in hegtenis geneem in verband met die toestande by die huis, sê die polisie. Erika Murray (31) sal Vrydag teregstaan weens klagte wat intimidasie van ’n getuie insluit, het aanklaers gesê.

Die distriksprokureur van Worcester County, Joseph Early jr. het gesê amptenare weet nie wanneer of hoe die babas gesterf het nie, ook nie hul ouderdom en geslag nie.

Speurders wat ’n saak van die roekelose bedreiging van kinders ondersoek, het die lyke gekry by ’n huis in Blackstone, sowat 80 km suidwes van Boston. Ondersoekers het beskermende pakke aangehad en die voordeur is met oranje lint afgesper.

“Die huis is vol peste [vermin],” het Joseph gesê. “Hier is vlieë en ander insekte. Ons het in plekke stapels gebruikte doeke gekry. Die huis is in ’n betreurenswaardige toestand.”

Joseph het gesê vier ander kinders, van onderskeidelik 13, 10 en drie jaar en ses maande, is op 28 Augustus uit die huis verwyder nadat ’n buurman die toestande van die huis opgemerk het en die polisie in kennis gestel. Die aanklaer het gesê een van die kinders in die huis het die buurman genader oor een van die ander wat nie wou ophou huil nie. Joseph het gesê die ses maande oue baba is op ’n bed aangetref bedek met ontlasting.

Erika, wie se verwantskap aan die kinders in die huis nie onmiddellik duidelik was nie, sal na verwagting oornag in polisie-aanhouding bly. Dit is onbekend of sy regshulp het.

Marilynn Soucy (68), wat naby die huis woon, het in ’n telefoniese onderhoud gesê sy is steeds in skok oor die nuus in die buurt waarin sy al 35 jaar woon.

“Ek is so ontsteld. Ek het nog nie die nuus verwerk nie,” het sy gesê. “Ek en my man het sewe kinders grootgemaak. Ons het 11 kleinkinders en twee agterkleinkinders. Ek kan my nie indink hoe ’n mens ’n kind seermaak nie.”

Sy het gesê sy en haar man, Bob, het die paartjie en kinders wat in die huis gewoon het, min gesien. Sy sê sy het die 10-jarige seun af en toe buite sien speel of die vrou op die stoep sien sit.

Marilynn het gesê sy het nooit enige groot klagtes oor die paartjie gehoor nie, behalwe dat haar kleinkinders eenkeer opgemerk het die huis ruik sleg.

Die departement kinders en gesinne het Donderdag gesê die kinders wat daar gewoon het, is onder toesig, en dat die departement nie by die gesin betrokke gaan raak tot tot dit ’n verslag van moontlike mishandeling of verwaarlosing ontvang het nie.

Joseph het gesê dit is te vroeg om te weet of daar aanklagte (en teen wie) weens die babas se dood aanhangig gemaak gaan word. Dit was nie onmiddellik duidelik waar die kinders se ouers is nie.