’n Vrou wat daar woon, is Donderdag in hegtenis geneem in verband met die omstandighede in die huis, volgens die polisie. Erika Murray (31) sal Vrydag teregstaan weens klagte wat intimidasie van ’n getuie insluit, het aanklaers gesê.

Die distriksprokureur van Worcester County, Joseph Early jr., het gesê amptenare weet nie wanneer of hoe die babas oorlede is nie, ook nie hul ouderdom en geslag nie.

Speurders wat ’n saak van die roekelose bedreiging van kinders ondersoek, het op die lyke afgekom in ’n huis in Blackstone, sowat 80 km suidwes van die stad Boston. Ondersoekers het beskermende pakke gedra en die voordeur is met oranje lint afgesper.

“Die huis is vol peste,” het Joseph gesê. “Hier is vlieë en ander insekte. Ons het op plekke stapels gebruikte doeke gekry. Die huis is in ’n betreurenswaardige toestand.”

Joseph het gesê nog vier kinders, van 13, 10, drie en ses maande, is op 28 Augustus uit die huis verwyder nadat ’n buurman die toestande van die huis opgemerk het en die polisie in kennis gestel.

Die aanklaer sê een van die kinders in die huis het die buurman genader oor een van die ander wat nie wou ophou huil nie. Joseph het gesê die ses maande oue baba is op ’n bed aangetref oortrek van ontlasting.

Erika, wie se verwantskap aan die kinders in die huis nog vasgestel moet word, sal na verwagting oornag in polisieaanhouding bly. Dit is onbekend of sy regshulp het.

Marilynn Soucy (68), wat naby die huis woon, het in ’n telefoniese onderhoud gesê sy nog geskok oor die nuus in die buurt waarin sy al 35 jaar woon.

“Ek is so ontsteld. Ek het nog nie die nuus verwerk nie,” het sy gesê. “Ek en my man het sewe kinders grootgemaak. Ons het 11 kleinkinders en twee agterkleinkinders. Ek kan my nie indink hoe ’n mens ’n kind kan seermaak nie.”

Sy sê sy en haar man, Bob, het die paartjie en kinders wat in die huis gewoon het, min gesien. Sy sê sy het die 10-jarige seun af en toe buite sien speel of die vrou op die stoep sien sit.

Marilynn het gesê sy het nooit enige noemenswaardige klagtes oor die paartjie gehoor nie, behalwe dat haar kleinkinders op ’n keer opgemerk het die huis ruik sleg.

Die departement van kinders en gesinne het Donderdag gesê die kinders wat daar gewoon het, is onder toesig, en dat die departement nie by die gesin betrokke gaan raak tot hulle ’n verslag van moontlike mishandeling of verwaarlosing ontvang het nie.

Joseph het gesê dit is te vroeg om te weet of daar aanklagte (en teen wie) weens die babas se dood aanhangig gemaak gaan word. Dis nog onbekend wie die kinders se ouers is.