Die uitvoerende vervaardiger Al Jean het gesê dié intrige speel af in die 27ste seisoen, wat in September uitgesaai word. Hy het aan die tydskrif Variety gesê Homer word op ’n dwaalspoor gelei deur ’n karakter waarvoor die Girls-aktrise Lena Dunham die stemwerk doen.

“In die eerste aflewering ontdek ons ná al die jare dat Homer aan narkolepsie ly en dit plaas ongelooflike druk op hul huwelik,” sê hy. “Homer en Marge gaan uitmekaar en Homer raak verlief op die apteker, met stemwerk deur Lena Dunham.”

Die nuus van Homer en Marge se huwelikskrisis het grotendeels negatiewe reaksie op sosiale media ontlok, met talle wat meen vervaardigers moet ná 26 jaar halt roep.

Die reeks se getroue aanhangers sal onthou die skrywers het in ’n aflewering in 1996 ’n stappie verder gegaan toe die paartjie skei.

Maar dié egskeiding was vlietend en Homer het destyds gesê hy het net geskei omdat hy besef het hy is nie die perfekte man nie en dat Marge ’n nuwe begin met ’n tweede, volmaakte huwelik verdien.