Die nuus is Dinsdagoggend in ’n verklaring op Afrikaans is Groot se amptelike Facebook-blad bekendgemaak.

Die konsert verskuif na die Sun Arena by Time Square, Menlyn Maine in Pretoria. Die nuwe arena is deel van Sun International se nuwe Time Square-casino. Dit het voorheen by die Moreletapark-ouditorium in Pretoria plaasgevind.

Waarom die skuif? Die grootste binnenshuise arena in die land is die beste tuiste vir die grootste konsert op ’n Suid-Afrikaanse verhoog, is die antwoord in die verklaring.

Die konsert vind vanjaar vir die sesde keer plaas.

Die meeste aanhangers het gunstig op die nuus gereageer omdat die konsert se nuwe tuiste plek vir meer mense het.

“Yippeee, ek moet die jaar gaan. Ek kon net nooit kaartjies kry nie,” het Chrissie Kruger op Facebook geskryf.

“Oeee, ek hoop ons kry tien kaartjies. Ek is baie opgewonde en hoop al my gunstelingsangers is daar,” het Margaret Geldenhuys Brand op die nuus gereageer.

Die sangers wat vanjaar op die konsert se verhoog te sien sal wees, sal van Maandag 10 April op Afrikaans is Groot se Facebook-blad aangekondig word. Die konsert vind vanjaar op 24 en 25 November en 1 en 2 Desember plaas.

Kyk hier na die video wat Afrikaans is Groot op hul Facebook-blad gedeel het: