Meer as 350 000 Top Gear-aanhangers het ’n versoekskrif onderteken dat die vervaardigers Jeremy Clarkson weer op die gewilde TV-reeks moet toelaat.

Jeremy is weens ’n onderonsie met die vervaardigers gekors hangende ’n ondersoek, maar geen nadere besonderhede is nog verstrek nie. Vandeesweek se uitsending van Top Gear in Brittanje is gekanselleer.

Jeremy was al meermale in die sop oor sy uitlatings. Time het vandag ’n lys van ses voorvalle gepubliseer waarvoor Jeremy al geskors moes gewees het.

  1. Toe hy die “N-woord” gebruik het

    Jare gelede het hy die rympie “Eeny, Meeny, Miny, Moe” opgesê om ’n keuse te doen en het die aanstootlike “N-woord” geuiter. Hy het later verskoning gevra en beweer hy het juis dié woord probeer vermy.

  2. Toe hy Nazi-grappies gemaak het

    In 2005, terwyl die Top Gear-span die Duitse BMW Mini bespreek het, het hy talle Nazi-verwysings gemaak en selfs sy arm in ’n Hitler-saluut gelig. Die BBC het Jeremy se gedrag verdedig deur aan te voer dat hy net die gehoor probeer vermaak het.

  3. Toe hy ’n rassistiese aanmerking oor Asiërs gemaak het in Thailand

    Jeremy het die Engelse woord “slope” gebruik om ’n brug met ’n Asiese man op te beskryf. Die woord kan in Australië en Amerika as ’n rassistiese opmerking teenoor Asiërs verstaan word. Die BBC het in ’n verklaring verskoning gevra en gesê dit was bloot ’n misverstand.

  4. Toe hy Piers Morgan geslaan het

    In 2004 het Jeremy ’n destydse redakteur van ’n poniekoerant, Piers Morgan, gepot by die Britse Perspryse. Hoewel hy erken het hy is skaam oor die voorval, het hy gereeld in die media daaroor gespog.

  5. Toe hy die eerste minister Gordon Brown beledig het

    Tydens die 2008-resessie het Jeremy die eerste minister ’n “eenoog Skotse idioot” genoem. Die eerste minister het sy oog as tiener tydens ’n rugbywedstryd verloor. Jeremy het later daarvoor verskoning gevra.

  6. Anti-Amerikanisme

    Jeremy is berug vir sy uitlatings teen die VSA en Amerikaners. In 2005 het hy in ’n poniekoerant, The Sun, ’n artikel geskryf waarin hy die reddingspogings van Amerikaners tydens Orkaan Katrina gekritiseer het. “Die meeste Amerikaners het skaars die breinkapasiteit om op hul agterbene te loop,” het hy geskryf.

Bronne: TIME, eNCA